

BEESSTERT MET COKE EN BALSAMIESE ASYN
Om mee te begin, ek is as ‘n reël skepties oor resepte wat Coke in kry, maar hierdie sous is hemels. Ek sal die resep verseker vir ander bees disse ook benut
1.3 kg oxtail – sny ergste vet af, maak groot dikboom pan baie warm en gooi lagie olie in (of benut die vet wat afgesny is) en braai die vleis goed bruin. Moenie te veel op ‘n slag probeer braai nie, anders kook dit ipv braai.
Pak vleis egalig in jou slow cooker.
Strooi jou keuse van BBQ speserye of droë ribbetjie marinade na smaak oor.
1 liter Coca-Cola (NIE dieet weergawe)
60 ml balsamiese asyn
20 ml sojasous
‘Deglaze’ pan (gooi bietjie van die Coke onder in die pan waarin vleis gebraai is en skraap al die lekker wat vasgebrand is onder in die pan los). Gooi al die vloeistowwe oor die vleis in die slow cooker.
Frummel bakpapier of waspapier, maak goed nat en sit direk op die vleis om te keer dat die boonste lagie nie uitdroog nie. Sit deksel op en bak vir 6 ure teen 100°C (my pot sit ek op automaties – dit is dan 2 ure op hoë temperatuur en daarna skakel dit af na laag). Kyk liewer na 4 ure of die vleis sag is. Proe of enige ekstra smaakmiddels benodig word.
Ek verkies ook om my groente apart van die vleis by te gooi, om te keer dat die vleis nie uitmekaar val nie
Oorspronklike resep se groente voorstel:
500 g baba aartappeltjies, in die skil
400 g jong groenboontjies
250 g sampioene
Ek het slegs gebraaide uie bygesit, My man was oortuig groente gaan alles opvoeter.
Haal die vleis uit, gooi sous in kastrol of oondbak. Voeg groente van jou keuse by en prut tot groente amper gereed is, voeg die vleis terug in die pot en maak deurwarm.
Indien nodig, verdik met Maizena.
Lewer 4 – 6 porsies.
Ek het pampoen poffertjies met karamel sous (resepte op blad) en mielies en ertjies in botter gebraai by bedien.
Foto: Petro Borchard
Resep geplaas deur Petro Borchard






