

PILCHARDS EN AARTAPPEL GEBAK
Ongeveer 4 groot porsies
4 medium grootte aartappels
1 blikkie pilchards in tamatiesous (425 g)
1 x 125 g pak aartappelskyfies (geur van jou keuse)
1 pakkie room van sampioensop
1 koppie melk
3 eiers
gerasperde kaas om bo-oor te strooi.
water om saam met die pilchards se sous 1 koppie te vul (250 ml in totaal)
Skil die aartappels en kook dit tot dit net begin sag word en dreineer. Sny in dun skyfies en braai in ‘n bietjie olie tot krispy en goudbruin. Voer die bodem van ‘n oondbak (20 x 20 cm), wat met ‘n kleefwerende middel behandel is, daarmee uit. Dreineer die pilchards en maak die vissies stukkend. Moenie dit heeltemal fyn maak nie. Plaas in ‘n mengbak. Plaas die sous oor in ‘n maatbeker en voeg water by deur die blikkie uit te spoel, tot die sous en die water 1 koppie volmaak. Voeg die inhoud van die pakkie sop by die sous en meng deeglik. Giet oor die pilchards in die mengbak. Klits die eiers en melk saam en voeg ook by die res in die mengbak. Maak die aartappelskyfies fyn en meng deeglik deur die res van die bestanddele in die mengbak. Skep dit oor die aartappels in die oondbak, strooi kaas oor en bak by 180ºC tot effens opgepof en goudbruin.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete






