

GE”FUDGE”DE RUBENS KOEK
MOUSSE (Jana se resep)
200 g donker eetsjokolade, in stukke gebreek
75 ml melk
12,5 ml gelatien
30 ml water
4 eiers, geskei
10 ml suiker (ek gooi meer in)
5 ml vanieljegeursel
250 ml room
Smelt sjokolade in melk.
Smelt gelatien en water in mikrogolf 20 sek. Voeg by die gesmelte sjokolade en roer tot gemeng. Klits eiergele, suiker en geursel baie goed tot heeltemal dik en liggeel. Giet die warm gesmelte sjokolademengsel in en klits net tot gemeng. Klits room styf en vou egalig in. Klits eierwit tot sagtepunt vorm en vou deeglik maar liggies in.
Plaas ongeveer 10 minute in die yskas om net effens ferm te word voordat die koek voltooi word.
FUDGE SOUS: (gegaps by iemand se pampoenpoffers resep)
250 ml room
200 ml bruinsuiker
50 ml botter
Kook saam tot dik. Sny sponskoek (jy gebruik net een laag) in 3 dele, so 1cm dik elk. Smeer fudge sous oor dik twee onderste lae, makliker as dit bietjie warm is. Laat set. Sit nou ‘n laag bak of waspapier om die rand van ‘n losboompan, of sommer terug in jou koekpan. Smeer bietjie botter teen die kante om dit te laat klou. Sit nou ‘n laag koek onder, met die helfte van die mousse bo-op. Dan die tweede laag koek, en weer mouse, en die boonste laag. Die ring keer dat die koeklae nie afgly terwyl die mousse heeltemal set nie. Sit in yskas oornag of vir ‘n paar uur tot geset. Keer nou uit, of haal net die ring en papier af.
GANACHE vir bo oor:
150 g donker sjokolade
1 kop dik room
50 g wit sjokolade
Verhit room tot net wil borrel en haal van stoof af. Smelt donker sjokolade in room, en laat afkoel tot net begin verdik. Gooi ‘n lagie oor die koek en laat afdrup. Sit in yskas vir 5 minute. Herhaal met nog ‘n lagie ganache. Smelt intussen jou wit sjokolade tot lekker vloeibaar en drizzle in enige patroon oor. Laat in yskas tot geset.
Notas:
Sny in skywe as dit yskoud is, kan koud geëet word, maar is nog lekkerder teen kamertemperatuur. (indien die weer nie te warm is nie, anders gaan jou lagies afgly)
Ganache kan ook gebruik word vir truffels. Voeg net ‘n doppie rum by as dit te dun is, laat heeltemal stol in yskas, skep uit met ‘n “melon baller” en rol in vermicelli of kakao.
Resep: Kity City






