

WENKE EN RAAD VIR LOPERIGE ROOMKAASVERSIERSEL
FOOD LOVERS RECIPES
Hierdie vraag is al so baie hier gevra en ons het al baie antwoorde gekry, maar vanaand op ‘n kosprogram het een van die deelnemers dit gedoen en vertel dat dit die probleem oplos.
Almal kla altyd wanneer hulle roomkaas versiersel maak, dan is dit pap en hoe meer mens klits, hoe slapper raak dit. Sy het vanaand gewys, mens klits eers die botter en versiersuiker saam, baie goed, en dan voeg jy die roomkaas, lepel vir lepel by en hou aan met klits. Dit was pragtig, so mooi styf dat sy dit kon “pipe”. Nou ja, daar het ons dit, moenie al die roomkaas op eenslag byvoeg nie, maar bietjie bietjie.
Susan Van Dyk – Foto
Ek gebruik julle wortelkoek resep, en my versiersel doen ek regtig soos ek klits. Maar ek werk altyd op 500 g margarien, 7 koppies versiersuiker. Klits slegs die margarien en versiersuiker saam. Wanneer dit te styf word, skep die maaskaas lepelsgewys in. Ek gebruik omtrent op daardie hoeveelheid ‘n halwe bakkie maaskaas in totaal. Ek dink die geheim is in die klits. Ek het die major Kenwood en ek klits vir hom tot dit soos styfgeklopte room lyk. Dit ‘pipe’ maklik en lyk netjies. Ek gebruik slegs 70 % volvet bakmargarien. Moenie met medium vet probeer nie. Die water inhoud is te hoog. Dis my opinie en ondervinding. Ek bak al 22 jaar vir ‘n tuisnywerheid.
Natasha Prinsloo
Gebruik volvet-roomkaas: Moenie lae-vet of “smooth” roomkaas gebruik nie, want dit bevat te veel water en sal die versiersel laat skei of loperig maak.
Koue kaas, sagte botter: Klits jou roomkaas koud direk uit die yskas, maar maak seker jou botter of margarien is sag (kamertemperatuur) sodat dit nie klonte vorm nie.
Moenie te lank klits nie: Roomkaas kan vinnig “waterig” raak as dit te veel gemeng word. Klits net tot dit glad is.
Sif altyd jou versiersuiker: Om ‘n gladde tekstuur sonder korrels te verseker, moet die versiersuiker deeglik gesif word voordat dit bygevoeg word.
Voeg ‘n suurlemoen-skop by: ‘n Teelepel suurlemoensap of ‘n bietjie ekstra vanilla geursel sny die soetheid van die suiker en laat die roomkaassmaak uitstaan.
Louise Veldman
Dit hang als af van die roomkaas wat jy gebruik.
Admin Rina
Gebruik die blokke roomkaas, dis al wat vir my werk. En moenie te veel klits nie.
Getha Singleton Meyer
Lancewood se roomkaas werk fantasties, asook Spar se maak, die bakkies roomkaas, meduim vet.
Blokke maaskaas en volroom is net onbekostigbaar duur en onnodig en dit is nie eers vol vet nie.
Geheim – stuk margarien en houer roomkaas, meng met klitser tot net gemeng, voeg dan so 500 g versiersuiker by, meng met klitser tot net gemeng.
Goeie 70 % margarien
Meduim vet roomkaas
Moenie baie klits nie
Susanna Kruger
Ek gebruik net één versiersel vir wortelkoek, dis heerlik en goedkoop.
250 g wit Wooden spoon margarien
1 eier
500 g versiersuiker
Meng alles baie goed tot daar geen klonte is nie. Meng dan suurlemoensap na smaak by, toets maar hoe “suur” wil jy dit hê, net nie te veel nie, anders is versiersel bitter.
Plaas die mengsel in die yskas vir 1 uur. Ek het nog nooit loperige versiersel gehad nie.
Jy kan seker as jy wil, roomkaas by dit inmeng, maar dit is regtig nie nodig nie, hierdie is baie lekker.
Eleanor Minny
Dis gewoonlik die roomkaas wat te veel water in het. Plaas die roomkaas in ‘n skoon doek, oor ‘n sif of vergiette, oornag in die yskas. Dit behoort jou probleem uit te sorteer.
Freda Raper
Ek klop botter tot glad, voeg versiersuiker by en klop dan suurlemoensap en die roomkaas laastens by. Altyd ‘n sukses.
Die is oorlede Fatima Sydow se resep – 350 g botter, kamertemperatuur, klits goed met ‘n elektriese klitser. Voeg 2 koppies gesifde versiersuiker by en klits goed. Voeg 2 eetlepels suurlemoensap en 250 g roomkaas of maaskaas by en roer deur tot gemeng.
Elsabie Templeton
Jy kan Kiri roomkaas (in die bakkie) of enige volroom roomkaas gebruik. Moet by kamertemperatuur wees. Dit hoef nie Philadelphia te wees nie. Dit versier perfek met enige vorm versierpunt.
Magda Van Der Merwe
Ons moet oplet, daar is n groot verskil tussen roomkaas en geroomde maaskaas. Ek gebruik altyd 230 g medium vet roomkaas en 200 g bak margarien (70%) van jou keuse, so 2 koppies versiersuiker, 1 doppie vanilla geursel en so ½ doppie suurlemoengeursel. Klop die roomkaas en margarien tot romerig, voeg die versiersuiker, lepels gewys by met die geursel. Klop tot lekker romerig, dit behou vorm en is heerlik.
Elaine Steyn
Jy kan maaskaas of roomkaas gebruik. Onthou net, die resep wat bv. aandui dat jy ‘n bakkie vol benodig, is vir roomkaas. Wanneer jy maaskaas gebruik, moet jy jou versiersel anders maak. Klop die botter, begin versiersuiker bietjies daarby inmeng. Sodra dit te droog raak, voeg die maaskaas bietjie vir bietjie by, totdat dit die regte dikte is. Klits vir ‘n paar minute. Jy kan met hierdie metode selfs dubbelroom of gewone jogurt gehruik. Ek doen dit gewoonlik, want roomkaas het verskriklik duur geword.
Riana Viviers
Ek gebruik nét roomkaas en versiersuiker.
30 g Rama blok margarien
500 g versiersuiker
1 teelepel suurlemoengeursel
5 eetlepels room of 3 eetlepels melk
As jy roomkaasversiersel maak, gebruik minder margarien en klits dit met die versiersuiker. Voeg laastens die roomkaas in. In baie warm weer, voeg ek bietjie aangemaakte gelatine ook druppelgewys by, terwyl klits. Hou die koek in koelkas sover moontlik.
Lourette Cronje
Resepte se hoeveelheid roomkaas is altyd te veel. Klits die botter en versiersuiker en voeg dan maaskaas en suurlemoensap by net om dit styf genoeg te maak sodat jy dit nog kan smeer. Beter indien geklits met elektriese klitser.







Geskuif