

SMAAKLIKE HOENDERPASTEI
4 hoenderborsies
1 gekapte ui
250 g sampioen skyfies
1 opgekapte groenrissie (opsioneel)
2 eetlepels meel
400 ml hoenderaftreksel
1 hoenderekstrak blokkie
200 ml melk
sout en peper na smaak
2 lourierblare
5 kruienaeltjies
Kook of stoom die hoender gaar, saam met die uie, lourierblare, kruienaeltjies en gekrummelde hoenderekstrak blokkie, in genoeg water sodat daar ongeveer 400 ml in die pot oorbly na die hoender gaar is. Verwyder die hoender en uie met ‘n dreineringslepel en sny die hoender in klein stukkies. Dreineer die aftreksel deur ‘n sif en hou eenkant.
Braai die sampioene en groenrissie in ‘n bietjie olie tot die sampioene begin sap afgee. Voeg die hoender en uie by en braai vinnig vir 1 of 2 minute terwyl alles deurmekaar gemeng word. Geur met sout en peper, maar hou in gedagte dat die hoender ekstrak blokkie wat saam gekook is, reeds sout is. Voeg die meel by en roer deeglik, sodat dit behoorlik deur die ander bestanddele versprei is. Voeg die hoenderaftreksel en melk by en laat prut tot die sous verdik.
Skep die vulsel mengse in ‘n groot oondbak. Maak ‘n sagte kors beslag aan (https://www.foodloversrecipes.com/2013/06/die-lui-huisvrou-pasteideeg-slapdegie/)en giet dit oor die vulsel. Bak vir ongeveer 30 minute by 180ºC of tot die kors deeglik gestol het en goudbruin verkleur.
Resep van Adrian Olivier
Foto: Adam Cloete






