

SUURLEMOEN BISCOTTI
My hele kombuis ruik na 🍋🍋🍋🍋!!!! En dit ruik lekker.
Ek het op die resepteblad gesoek en toe op Biscotti a la Lorraine besluit maar ek het dit net as basis gebruik en dit as volg verander:
125 ml strooisuiker
75 g botter
fyn gerasperde skil van 1 groot suurlemoen en sap van die helfte van die suurlemoen
2 groot eiers
500 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
2,5 ml sout
Room die botter en strooisuiker en gooi die suurlemoensap en gerasperde skil by en meng. Voeg die eiers een vir een by en meng goed na elke byvoeging. Sif die meel, sout en bakpoeier saam en voeg by die botter/suiker mengsel en meng tot al die meel ingewerk is.
Deel die deeg in twee en rol elke stuk op meelbestrooide oppervlak tot ‘n lang rolletjie (kyk op my fotos). Sit dit in ‘n gesmeerde oondpan of bakplaat en bak teen 180°C vir 20 min. Haal uit die oond en laat vir so 20 min afkoel. Sny met skerp mes (ek vind my Victorinox tamatie mes met die klein riffeltjies op die lem werk baie goed vir dit, nie ‘n gladde lem mes nie) in skyfies en pak plat op bakplaat en bak weer vir 15 min, draai die stukkies om en bak nog 15 min. Laat in die oond afkoel met die deur effens oop.
Foto en resep: Elsabie Templeton






