

MELANZANE
(Italiaanse eiervrug gereg).
My tannie Toni se resep met bietjie van my eie aanpassings.
8 klein eiervrugte, geskil en in ½ cm dik skywe gesny
Strooi sout oor die eiervrugskywe om die bitter sap uit die vrug te trek. Na 10 min, spoel die eiervrugskywe af met skoon water en droog dit af. Plaas eenkant.
Vir die deeg:
2 koppies koekmeel
3 eetlepels Robertsons groente speserye
2 eiers
ongeveer 1 koppie melk
Meng die deeg bestanddele saam in ‘n mengbak tot ‘n slapperige deeg vorm. Dit moenie té loperig wees nie.
Doop die eiervrugskywe in die deeg en vlakbraai die bedekte skywe in ‘n warm pan met bietjie olie tot goudbruin aan elke kant. Plaas op handdoekpapier om die olie te dreineer.
Sous:
2 blikke tamaties in tamatie sap
½ groen soetrissie, opgesny in blokkies
½ rooi soetrissie, opgesny in blokkies
½ geel soetrissie, opgesny in blokkies
1 ui, opgesny in blokkies
1 teelepel fyn knoffel
sout en peper na smaak
Robertsons groente speserye (opsioneel)
1 teelepel suiker
4 eetlepels blatjang
1 eetlepel tamatiesous
1 eetlepel Worcestersous
Braai die uie, soetrissies en knoffel in bietjie olyfolie tot sag. Voeg die blikke tamaties by saam met die speserye, verlaag die hitte en prut die sous vir 15 min. Maak die sous fyn met ‘n hand “blender” tot glad, sonder enige stukkies. Prut die sous ‘n verdere 15 min oor lae hitte. Voeg die suiker, blatjang, tamatiesous en Worcestersous by en prut die sous verder op lae hitte vir nog ‘n halfuur.
Sodra die sous reg is, pak ‘n laag gebakte eiervrug onder in ‘n oondbak. Giet ‘n lagie sous en pak weer eiervrug en eindig met sous. Strooi bietjie Mozzarella kaas oor en bak in ‘n voorverhitte oond teen 180°C vir 15 min tot die kaas heeltemal gesmelt is.
Nota – Ek het nie Mozzarella kaas gehad nie en Parmasan kaas en bietjie Gouda kaas gebruik. Dit het nogsteeds heerlik uitgekom. Ons het dit as bykos saam met braaivleis geniet. Die sous kan ook gebruik word as ‘n pastasous. Voeg vleis van jou keuse by indien verkies.
Resep en foto: Juanita Vermeulen







Done