


ELSABIE SE KARRINGMELK EN MUESLI BESKUIT MET VLAPOEIER
Resepte en foto’s: Elsabie Templeton
FOOD LOVERS RECIPES
8 x 250 ml koekmeel
2 x 250 ml muesli (ek gebruik Nature’s Source Crunch Nutzy – pers pak)
250 ml vlapoeier
500 ml suiker
45 ml bakpoeier
45 ml vanilla geursel
5 eiers
1 liter karringmelk (OF 150 ml wit wyn asyn en genoeg melk om dit 1 liter te maak)
500 g botter (gesmelt)
5 ml sout
Sif die meel, bakpoeier en vlapoeier saam in groot mengbak en meng goed met groot hout lepel. Voeg die suiker, sout en muesli by en meng goed. Klits eiers en voeg die eiers, karringmelk, vanilla en gesmelte botter by, roer tot alles goed gemeng en klam is. Skep in groot gesmeerde oondpanne en bak by 180°C vir ‘n uur of tot mooi ligbruin bo-op.
Laat heeltemal afkoel in die panne, keer uit en sny met elektriese broodmes in vingers of soos verlang. Die elektriese broodmes maak die minste krummels dis hoekom ek dit gebruik.
Droog uit op 60°C oornag in elektriese oond.
Ek het nog nooit sukselvol in my gasoond uitgedroog nie, want die laagste hitte is nog te warm en ek het nie tyd om elke halfuur dit dop te hou en om te draai nie. Ek bak in die gasoond omdat hy so groot is maar ek droog nog uit in die elektriese oond.
Die beslag is genoeg vir twee panne van ongeveer 39 x 30 x 6cm.
Jy kan die resep aanpas met Nutty Wheat en/of semels, verminder net die koekmeel. Jy kan ook die muesli heeltemal uitlaat, sit dan net nog 2 koppies koekmeel by.
2de foto: Nota: Ek gebruik Nature’s Source se Crunchy Nutz muesli met neute in, maar voeg sommer nog ‘n handvol cashews by asook amandel vlokkies. Jy kan regtig enigiets byvoeg (semels, All Bran vlokkies, Nutty Wheat, ens, onthou net om dan minder meel by te sit. As ek ‘n ekstra koppie All Bran insit laat ek ‘n koppie meel uit).

Vir karringmelkbeskuit met klapper en muesli. – Ek het hierdie resep gebruik, vla poeier uitgelos en 1½ koppies droë klapper bygesit.







geskuif