

PETRO SE KERRIEVIS
SOUS :
2-3 groot uie, gehalveer en in dun skywe gesny
100 g (125 ml) sagte bruinsuiker
50 ml fyn appelkooskonfyt
750 ml asyn
1 duimgroot stuk vars gemmer, gerasper of gekap
3 knoffelhuisies, gekneus
1 rooi brandrissie, gekap (opsioneel )
45 ml Garam masala of matige kerriepoeier
5 ml komyn
5 ml borrie
5 heel naeltjies
5 wonderpeperkorrels
2 lourieblare
2 suurlemoenblare
125 ml water
15 ml mielieblom
sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
VIS :
2 kg visfilette
sout en peper
koekmeel
olie en botter vir braai
Plaas al die sousbestanddele in ‘n kastrol en verhit dit oor matige hitte terwyl jy aanhoudend roer. Laat die sous vir sowat 10-15 minute prut tot effens verdik. As jy wil, kan jy die uie eers in ‘n bietjie botter braai tot sag, dan die knoffel, gemmer en speserye byvoel en dit ook ‘n bietjie braai voor jy die res byvoeg.
Druk die vis goed droog met kombuispapier, sny in porsies en geur met die sout en peper. Rol elke porsie in die koekmeel en skud die oortollige meel af.
Verhit die olie en botter in ‘n braaipan en braai die vis tot gaar en goudbruin aan albei kante. Moenie al die vis gelyktydig braai nie – braai dit in kleiner hoeveelhede, anders stoom dit pleks dat dit braai.
Skep ‘n bietjie sous in ‘n geskikte glas- of porseleinbak en skep ‘n laag vis bo-op die sous. Bedek die vis met ‘n laag sous en herhaal die lae tot jy al die vis en sous gebruik het. Laat dit afkoel en bedek met kleefplastiek. Bewaar in die yskas.
Wenke : Kerrievis raak lekkerder hoe langer dit staan – gee die geure so 2-3 dae kans om mekaar goed te leer ken voordat jy dit voorsit.
Jy kan geelstert, koningklip, snoek, kabeljou of stokvisfilette gebruik. Ek self verkies die eerste drie witvisse omdat hulle fermer is, sagter soort soos stokvis hou nie so lank nie.|
Omdat die vis in ‘n kerriemarinade lê, is dit wys om die bak deeglik toe te maak voordat jy dit in die yskas bêre, anders gaan alles na kerrie ruik en proe!
Foto: Petro van Genderen







Geskuif