

GEBRAAIDE KAASBURGER UIERINGE
Kry solank ‘n medium pot olie vir diep braai warm oor ‘n medium-hoog hitte.
Maak vir jou jou gunstelling frikkadel mengsel. Ek het gebruik:
500 g steak maalvleis
1 teelepel knoffel flokkies
1 teelepel sout
1 teelepel swartpeper
1 handvol groenpeper
1 handvol rooipeper
1 handvol geelpeper
1 eetlepel italiaanse kruie
1 eier
Vat ‘n medium ui of 2. Maak dit skoon. Sny in so 1cm tot ringe. Haal die ringe uit mekaar uit. Jy soek die ringe wat so half ‘n bakkie vorm.
Vul die uieringe halfpad met frikkadel mengsel. Sit dan ‘n snytjie of blok kaas (ek het cheddar gebruik) bo-op en vul verder met frikkadel mengsel.
Nou hier kom die aaklige deel. Die oorspronklike video wat ek gekyk het sê jy moet die gevulde uiering in meel druk, dan eier druk, dan weer meel en dan weer eier en dan in krummels. Maar dit klink vir my te morsig en ek haat eier, meel en krummel. So ek het “gom” aangemaak:
125ml meel
250g karringmelk
Melk om te verdun
Meng alles goed saam in ‘n dieperige bakkie. Jy kan dit geur soos jy wil.
In ‘n vlakkerige bak kry jy jou broodkrummels reg wat jy ook kan geur soos jy wil (volgens my).
Tel die gevulde uiering op en sit dit in die gom. Skep die gom met ‘n lepel oor die hele gevulde uiering sonder om dit uit mekaar te laat val.
Tel dit uit die gom en sit dit in die krummels. Skep krummels oor met ‘n lepel oor en druk lekker ferm vas. Sit dit in ‘n bord.
Wanneer jy klaar is met al die ringe braai jy dit tot dit lekker goud bruin is in die warm olie.
Bedien met tamatiesous.
Foto: Wayne Dugmore






