

LENSIE EN SPINASIE SLAAI MET UIE, KOMYN EN KNOFFEL
Bedien 6
1 koppie groen lensies (ek het gewone bruin lensies gebruik)
1 vars lourierblaar
1 seldery stingel
‘n paar vars tiemie takkies
2 eetlepels olyfolie
1 fyngekapte ui
2 eetlepels gebreekte en geroosterde komynsade
400 g jong spinasie
sout en swart peper na smaak
2 tot 3 eetlepels gekapte pietersielie plus ‘n paar takkies vir garnering
Vir die slaaisous:
5 eetlepels olyfolie
1 teelepel Dion mosterd
3 – 5 teelepels rooi wynasyn (ek het gevoel dis te min en het ongeveer 4 eetlepels gebruik)
1 fyngekapte knoffelhuisie (hier het ek ook meer gebruik)
1 teelepel fyngerasperde suurlemoenskil, opsioneel
Spoel die lensies en plaas dit in ‘n groot kastrol. Voeg genoeg water by om dit behoorlik te bedek. Bind die lourierblaar, tiemie en seldery stingel in ‘n bondeltjie en voeg by die lensies. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte tot medium en kook vir 30 tot 45 minute tot net sag maar nie pap nie. Moenie sout byvoeg nie aangesien dit die lensies se doppe taai maak.
Maak intussen die slaaisous deur die olie, mosterd, asyn, knoffel en suurlemoenskil goed te meng en in ‘n klein klein botteltjie met ‘n delsel eenkant te hou.
Dreineer die lensies deeglik en plaas in ‘n mengbak. Voeg meeste van die slaaisous by en meng deeglik. Hou dit eenkant en roer dit elke nou en dan.
Verhit die olie in die diep braaipan en braai die uie oor lae hitte vir 4 tot 5 minute todat dit begin sag word. Voeg die komyn by en braai verder vir 1 – 2 minute.
Voeg die spinasie by, geur na smaak, bedek en kook vir 2 minute. Roer en kook dan nog ‘n bietjie tot die blare begin verwelk.
Meng die spinasie en uie met die lensies en laat afkoel. Voeg dan die oorblywende slaaisous by en roer die gekapte pietersielie daarby. Pas die geurmiddels aan en voeg meer rooiwynasyn by indien nodig.
Plaas oor in ‘n opdien bak en garneer met die ekstra pietersielie. Bedien by kamertemperatuur.
Bron: Adam Cloete (vertaal en aangepas uit The Onion Lover’s Cookbook)
Foto: Adam Cloete






