
KREEF IN ‘N KITS
Kreef in ‘n kits vir binnelanders
Vir ons binnelanders wat nie elkeen met ‘n kreef onder die arm gebore is nie, gaan lees ek toe in Zoltan de Rosner se boek Vis in ‘n Kits hoe ‘n mens met die kreef moet maak.
Hy sê een ding wat ‘n mens nooit moet doen nie, is om ‘n lewendige kreef in ‘n klomp kookwater te dompel. Behalwe dat dit wreed is, is die belangrikste rede dat al die spiere saamtrek wanneer dit die kookwater tref en ‘n spasma veroorsaak, wat die vleis taai maak. Die maklikste metode is om die lewendige kreef vir ‘n halfuur in koue, vars water in ‘n diep skottel te sit. Dit help in die eerste plek om die spysverteringskanaal skoon te spoel, en die kreef sal heel ontspanne sterf. As jy by die see is, kan jy ook ‘n groot kastrol vol seewater skep, die kreef daarin gooi en dit ‘n paar uur daarin laat. Gooi die water weg, maak die kastrol vol vars seewater en verhit dit stadig tot kookpunt. Wat nou gebeur, is dat die kreef by ‘n sekere temperatuur met minder ooglopende stres sterf. (Dit klink maar nog vir my na ‘n pynlike dood maar hoe het die skrywer gesê: die kreef raak gewoond daaraan.)
Die kooktyd is sowat 8 minute vir elke 500 g. Die kreef is gaar wanneer sy dop helderpienk is. Moenie te lank kook nie, want dan word die vleis soos rubber.
As jy die kreef met kop en al gaan voorsit, plaas die gaar kreef met die pens na bo op die snyplank en druk die punt van ‘n groot, skerp mes hard bo-op die hele kreef om dit van kop tot stert middeldeur te sny. Binne behoort die gaar vleis ondeurskynend te wees.
Haal die binnegoed uit die kop, maak die koordagtige spysverteringskanaal los en verwyder dit ook uit die stert. Spoel daarna die hele kreef mooi af en druk dit goed droog.
Nou die maklike resep.
Vir 4 mense benodig jy:
2 gaar krewe,
2 koppies kreefaftreksel,
150 g vars of bevrore ertjies (maar ek beveel mangetout, daardie soet peul-ertjies aan),
3 eetlepels botter,
1 groot ui, geskil en gekap,
3 eetlepels koekmeel,
1 t tiemie;
‘n halwe suurlemoen se skil, gerasper en ook die sap,
250 ml vars room,
die ander helfte van die suurlemoen in wiggies gesny.
Laat die kreef effens afkoel, verwyder die vleis uit die stert en sny dit in blokkies. Sit eenkant.
Maak nou die aftreksel deur al die doppe in die kastrol waarin die kreef gekook is, te plaas en met 2 koppies water te kook vir 30 minute. Verwyder die doppe.
Kook die ertjies in ‘n ander kastrol en hou warm.
Smelt die botter, braai die ui daarin tot sag. Haal die pan van die hitte af, roer die meel by die botter en uie in en voeg die kreefaftreksel by. Plaas terug en maak ‘n lekker witsous. Sodra die mengsel begin prut, sit tiemie, suurlemoensap en skil en die kreefvleis by. Gooi die room by en roer tot die mengsel dik is.
Sit met suurlemoenwiggies op wilde rys voor en skep die ertjies bo-oor.
Lekker eet!






