

BLOMKOOL EN HOENDER GEBAK
3 hoenderborsies, gekook en in stukkies gesny
1 groot blomkoolkop
350 g gerasperde Cheddarkaas (jy kan meer gebruik) en ‘n handvol om bo-oor te strooi
2 opgekerfde preie
125 g gaar spek stukkies
1 teelepel fyn knoffel
1 groot eetlepel bruismeel
1 groot eetlepel botter
125 g gladde maaskaas
Sout en peper na smaak
Stoom die blomkool tot sag. Meng die gaar hoender, preie, spek en knoffel met die kaas in die mengbak. Smelt die botter in ‘n klein kastrolletjie en voeg die meel daarby. Roer deeglik oor lae hitte tot die meel goed in die botter ingemeng is. Voeg bietjie van die hoenderaftreksel waarin die hoender gekook het bietjie vir bietjie by terwyl jy aanmekaar roer, om ‘n witsous te vorm. Die sous moet nie te styf word nie. Haal van die hitte af en meng die maaskaas daarby. Meng die sous goed deur die hoendermengsel. Sny die blomkool op in stukke en meng dit met die kaasmengsel. Geur met sout en peper. Plaas die mengsel oor in ‘n oondbak, strooi die ekstra kaas bo-oor, bedek met foelie en bak by 180ºC vir 25 minute. Verwyder die foelie en bak verder vir ‘n verdere 5 – 10 minute.
Bron en Foto: Adam Cloete.






