WENKE VIR DIE MAAK VAN JELLIE (KONFYT)
Vrugte soos kersies, perskes, aarbeie en frambose bevat min pektien, daarom word vrugte wat baie pektien bevat, soos appels, sitrus of aalbessies, in resepte bygevoeg.
Om goeie jellie te maak, is ‘n tydsame proses wat nie aangejaag kan word nie. Moet byvoorbeeld nie aan die versoeking toegee om die jelliedoek te druk, skud of roer sodat die vloeistof vinniger kan deurloop nie; dit gaan ‘n dowwe eindproduk lewer. Sommige jellieresepte beveel aan dat die jellie deur die nag gelaat moet word om deur die doek te drup. dit is egter nie nodig nie, want dit duur net ‘n paar ure. Baie mense sien nie kans vir die lang proses nie en gebruik dan vrugtesap om jellie te kook; dit is natuurlik nie die ware Jakob nie.
Jellie kan gebruik word as ‘n smeer op brood, muffins of skons of as ‘n bykomstigheid by vleis, veral vark- of wildsvleis.
Om Jellie Van Vrugte Te Kook
Gebruik gesonde, effens onderryp vrugte wat nie pap is nie. Was die vrugte, droog dit af en verwyder alle stingels, blare en gekneusde dele. Berei elke soort vrug voor soos in die resep aangedui.
Dit is nie nodig om appelkerns te verwyder as jy die appels met die hand kap nie, maar as dit in ‘n verwerker gekap word, is dit beter om die kern eers te vrwyder, aangesien die verwerker die pitte kan stukkend kap en dit sal dan ‘n bitter smaak aan die jelllie gee. Onthou om altyd die kerns saam met die vrugte te kook, aangesien dit ‘n groot hoeveelheid pektien bevat.
Prut die vrugte en water in ‘n groot kastrol vir 20 – 30 minute of tot die vrugte baie sag en pap is.
Steriliseer ‘n moeseliendoek deur kookwater daardeur te gied. Hang die moeseliendoek (jelliesak) aan ‘n staander of aan ‘n stoel wat onderstebo staan, se vier pote. Plaas nou ‘n bak daaronder om die jellie/sap wat deurdrup, op te vang.
Giet die mengsel in die jelliesak en laat dit stadig deurdrup. Dit duur ongeveer 2 – 3 ure.
Meet die sap en weeg die suiker af : 500 g suiker vir elke 500 ml sap (ek gebruik minder, maar dit moet minstens 3/4 suiker tot 1 deel sap wees).
Verhit die vrugtesap en suiker saam met die suurlemoen sap oor lae hitte en roer tot die suiker opgelos is.
Verhoog nou die hitte en kook vinnig tot stolpunt bereik is of tot die mengsel 105 C bereik.
Baie skuim vorm as gevolg van onsuiwerhede wat loskom en boontoe beweeg sodra die produk begin kook. Maak seker dat jy alle skuim verwyder om so ‘n helder produk te verseker.
Giet die jellie gesteriliseerde warm bottels en verseël.
Die rakleefteyd van jellie is 2 jaar.
Bydrae deur: Petro Borchard