ROMERIGE KERRIE HOENDER MET KLAPPERMELK
Ongeveer 8 hoender porsies of ‘n heel hoender in porsies opgesny (ek sny die bors gedeeltes in die helfte)
25 ml olyf of klapperolie
1 ui, in dun skyfies gesny
5 ml fyngedrukte knoffel
5 ml gerasperde vars gemmer (of 1t gedroogde gemmer)
45 ml matige hoender-kerrie-masala (of kerriepoeier)
1 ster anys, 8 kardamom sade, 1t vinkel (fennel) sade
1t borrie
2 kaneel stokkies
1 blik klappermelk
300 ml klaargemaakte hoenderaftreksel
sap van ‘n halwe suurlemoen
gerasperde skil van suurlemoen
4 aartappels, geskil en in blokkies gesny
200 ml bevrore ertjies
Vars koljander blare
Braai die hoenderstukkies bruin in die olie. Skep die hoender uit die kastrol en hou dit eenkant.
Soteer die ui tot sag. Voeg die knoffel, gemmer, suurlemoenskil en ander speserye by en braai stadig vir so 5min sodat die geur kan uitkom (wees versigtig dat dit nie brand nie). Gooi bietjie meer olie by as die bodem van jou pan te droog is vir die speserye om te braai.
Roer ’n bietjie klappermelk, suurlemoensap en die hoenderaftreksel by. Voeg die hoenderstukke en aartappels by en verhit dit tot kookpunt. Verlaag die hitte, sit die deksel op en laat dit vir so 25 minute prut of totdat die aartappels sag is en die hoender behoort dan ook gaar te wees.
Gooi dan die res van die klappermelk en die gevriesde ertjies by. Laat dit vir vyf minute prut. Geur die kerrie na smaak en sit dit voor met basmati rys en/of naan brood/rotis en sprinkel vars koljander blare bo-oor.
Ek verkies my kerrie geurig en nie “mother-in-law-from-hell” warm nie! Indien jy of van jou gaste van ‘n warm kerrie hou, kry of maak ‘n vars groen of rooi masala en hou dit in die yskas (dit hou tot 8 weke in die yskas en as jy baie maak kan dit suksesvol gevries word). So hou jy almal gelukkig met kerrie disse.
Nota: ek gebruik hierdie metode vir basies al my Kerrie geregte (die klappermelk werk goed saam met wildsvleis, bees en seekos maar ek vind dit effens te ryk saam met lamvleis). Jy kan ook gekapte tamaties byvoeg.
BRON/FOTO: Elsabie Templeton








