
KLAPPER SUURLEMOENKOEK MET KLAPPERMELK
Resep geplaas deur Adele
Stroopkoeke is altyd lekker klam. Klappermelk help dat die koek ook lekker sag is. Dit is by meeste supermarkte beskikbaar – gewoonlik in dieselfde ry as die ingedampte melk.
125 g botter / margarien (by kamertemperatuur)
¾ koppie (180 ml) strooisuiker
3 eiers
425 ml (1½ koppie + 50 ml) koekmeel
12½ ml bakpoeier
250 ml (1 koppie) klapper
125 ml (½ koppie) klappermelk
125 ml (½ koppie) melk
25 ml suurlemoensap
Vir die suurlemoenstroop:
60 ml (¼ koppie) suurlemoensap
60 ml (¼ koppie) strooisuiker
60 ml (¼ koppie) water
Vir die versiersuiker:
150 g versiersuiker
15 ml melk
10 ml suurlemoensap
Smeer ‘n 23 cm-ringkoekpan deeglik, sodat jou koek nie later vassit nie.
Voorverhit dan die oond tot 180˚C.
Verroom die botter / margarien en suiker totdat dit lig en romerig is.
Voeg die eiers een vir een by, meng deeglik voor jy die volgende een byvoeg.*
Voeg die res van die bestanddele – die meel, bakpoeier, klapper, klappermelk, melk en suurlemoensap – by. Klits vinnig totdat alles gemeng is.
Skep in die gesmeerde pan en bak vir 40 minute tot die koek wegtrek van die kante en ferm en goudbruin is.
Laat die koek so 10 minute nog in die pan staan om af te koel, voordat jy dit op ‘n afkoelrakkie uitkeer. Sit nou die koek en afkoelrakkie bo-op ‘n bord en skep die suurlemoenstroop met ‘n lepel oor.
Maak seker dat jy die stroop eweredig versprei.
Jy kan die stroop wat in die bord afgeloop het, weer oor die koek skep.
Laat nou die koek heeltemal afkoel voordat jy die versiersuiker oorsit. Gebruik maar net ‘n lepel en skep die versiersuiker so al in die rondte op die koek. Dit kort net ‘n bietjie aanmoediging om so verleidelik langs die kante van die koek af te loop.
Vir die suurlemoenstroop:
Wanneer die koek so halfuur in die oond was, kan jy met die suurlemoenstroop begin.
Meng die drie bestanddele in ‘n klein kastrol en smelt die suiker oor ‘n lae hitte.
Sodra die suiker gesmelt is, kan jy die hitte hoër stel, en die stroop vir 5 minute vinnig laat kook.
Vir die versiersuiker:
Meng al die bestanddele saam.
Gebruik ‘n draadklitser – dit help om enige klonte op te breek. As dit te styf lyk, voeg nog ‘n druppel of twee water of suurlemoensap by. Jy kan ook nog versiersuiker byvoeg as jy dalk te veel vloeistof bygevoeg het.
Wanneer dit te loperig is, trek dit heeltemal in die koek in.
Jy moet die versiersuiker gebruik direk nadat jy dit gemaak het, anders word dit hard.
*Wenk: In die winter sukkel mens dikwels om die botter / margarien en suiker tot lig en romerig te klits. Voeg dan een van die eiers by – en klits dan tot dit lig en romerig word – voordat jy die ander twee eiers ook byvoeg.






