BEESTONG IN TAMATIE-SAMPIOENSOUS
1 vars of gepekelde beestong
1 groot ui, fyngekap
30 ml kookolie
1 x 285 g heel sampioene
125 ml tamatiesous
125 ml asyn
30 ml suiker
10 ml aangemaakte mosterd
10 ml sout
1 ml peper
As ‘n gepekelde tong gebruik word, moet dit eers ‘n uur lank in koue water uitgevars word. Bedek die tong met vars koue water en kook dit tot sag – sowat 40 minute in ‘n drukkastrol. Laat die tong in die tong-aftreksel afkoel. Trek die vel af en sny die tong in dun skyfies. Plaas die skyfies in lae in ‘n oondvaste skottel van 20 x 20 cm.
Braai die ui in die kookolie tot sag. Voeg die sampioene en hul vloeistof, tamatiesous, asyn, suiker, mosterd, sout en peper by en kook dit sowat 5 – 8 minute oor matige hitte. Gooi die sous oor die tongskyfies.
Bak die tong 30 minute lank by 180ºC. Lewer 6 – 8 porsies.
Bron: Elda Lombard








