

WENKE VIR SUKSESVOLLE PANNEKOEK
Ek bak nogals BAIE pannekoek en hier is wat ek deur die jare gevind het:
1 eier vir elke koppie meel.
Ek gebruik bruismeel en nie meel en bakpoeier nie – dit verseker dat jy nie bakpoeier klontjies of daai skurwe smaak kry nie.
Jy kan asyn/suurlemoensap/brandewyn gebruik. Hulle almal doen presies dieselfde vir die beslag. Ek verkies brandewyn en as ek nie het nie, dan vars suurlemoensap.
Water gee ‘n ligter pannekoek, terwyl melk in die beslag dit makliker laat bak. So as jy nie so handig is nie, gebruik melk vir die beslag, maar ek verkies die ligter pannekoek wat jy kry as jy net water gebruik.
Gebruik meel en olie in jou beslag, dan hoef jy nie elke keer die pan te olie nie – 1/4 kop olie vir elke koppie meel.
Jou beslag MOET vir ten minste ‘n halfuur staan. Dit verander die gluten in die meel.
Jou pan moet sommer GOED warm wees voor jy begin bak, anders sukkel mens met pannekoeke wat vassit.
En natuurlik…..jy moet ‘n ordentlike pan hê. Teflon-pannetjies is goed genoeg, solank hulle teflon nog in ‘n goeie toestand is. As jy jouself wil bederf, kry mens die lekkerste pannekoekpanne by Yuppiechef, maar dis nogals duur. My boetie het my bederf met 2! Gelukkige ek!
Hulle is ligte pannetjies, maar het ‘n dikker boom, so hulle “buckle” nie so maklik soos die goedkoper teflonpanne nie.
Ek sal nou my resep vir jul plaas. Dit het nog nooit geflop nie, daar is net 1 “catch” met hierdie resep wat om ek weet nie watter rede nie, anders is as die ander resepte…..jy kan nie die beslag oornag laat staan nie, dan bak dit verskriklik moeilik. Bak eerder al die pannekoeke klaar. Die pannekoeke bewaar ongelooflik goed en raak glad nie taai en rubberig nie. Vries ook goed.
PANNEKOEK
Meng:
750ml bruismeel
5 ml sout
Klits saam:
4 eiers
1 liter water
250 ml olie
30 ml brandewyn/suurlemoensap/asyn
Klits die vloeistof geleidelik by die droë bestanddele tot glad.
Laat rus 30 min en bak dan in ‘n WARM pan.
Die pannekoek hou baie goed in die yskas vir n paar dae. Dit raak glad nie taai nie.
Hier is my resep soos ek dit nou gebruik. Het dit ook al aangepas met tyd weer. Dit maak lekker baie pannekoek. Die resep halveer ook baie goed as jy nie so baie wil bak nie…..maar met 3 seuns in die huis, bak ek berge op ‘n slag! 😂
Wenke en resep deur: Mariette Visser






