BOTTERSKORSIESOP MET SITRUS
(Maklik en baie lekker!)
Die botterskorsiesop bevat ook appel en is liggies met lemoen en kerrie gegeur.
2 uie, fyn gekap
45 ml (3 eetlepels) botter
500 ml (2 koppies) botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
1 kook appel, ontkern, geskil en gerasper
45 ml (3 eetlepels) koekmeelblom
5 ml (1 teelepel) matige kerriepoeier
knippie neutmuskaat
750 ml (3 koppies) hoenderaftreksel
375 ml (1 ½ koppie) melk
skil en sap van 1 lemoen
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
250 ml (1 koppie) room
pietersielie, fyn gekapSoteer die uie in gesmelte botter tot sag en deurskynend. Voeg die botterskorsie en appel by en roerbraai effens. Roer die koekmeelblom, kerriepoeier en neutmuskaat by.
Voeg die hoenderaftreksel, melk , skil en sap van 1 lemoen by. Prut ongeveer 15-20 minute lank of tot die groente sag is. Giet deur die sif, behou die vloeistof en verpulp die groente in ‘n voedselverwerker tot glad. Meng alles weer.
Geur met sout en swartpeper na smaak. Hou ‘n bietjie van die botterskorsiepuree eenkant en voeg die room by die res. Giet die sop in sopbakkies en giet ‘n straaltjie van die puree al in die rondte in elke bakkie. Strooi pietersielie oor en dien warm op. Genoeg vir vier mense.
Resep: Erna De Villiers
Foto: Fanie Smit
Nota deur Fanie Smit: Die lemoenskil is effens oorheersend en sal dit net helfte maak.








