

SACHERTORTE
Dié bekende koek se oorsprong is Wene en dis ideaal vir ’n spesiale geleentheid.
Genoeg vir: 1 koek
100 g goeie donkersjokolade, in stukkies gebreek
250 ml water
250 g bruinsuiker
125 g botter
3 eiers
150 g bruismeel
70 ml kakao
60 g gemaalde amandels
GANACHE
200 g goeie donkersjokolade, in stukkies gebreek
160 ml room
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n veerklampkoekpan (22 cm) met botter en voer ook die bodem met gesmeerde bakpapier uit.
Plaas die sjokolade en water in ’n dubbelkastrol en smelt dit oor lae hitte. Verwyder van die hitte sodra dit gesmelt is en plaas eenkant.
Room die botter en suiker totdat dit lig en donsig is. Klits die eiers een-een by en moenie bekommerd wees as dit lyk of die mengsel begin skif nie.
Sif die bruismeel, kakao en gemaalde amandels saam en roer dit by die eiermengsel. Roer die gesmelte sjokolade met ’n houtlepel by en meng. Skraap die beslag met ’n deegskraper uit in die voorbereide koekpan.
Bak vir sowat 1 uur en 15 minute of totdat die koek gaar is as dit met ’n toetspen getoets word. Keer die koek op ’n afkoelrakkie uit en laat dit heeltemal afkoel.
Berei die ganache – plaas die sjokolade en room in ’n dubbelkastrol en smelt dit saam totdat dit vloeibaar is. Gebruik ’n slaplemmes en smeer ’n lagie ganache oor die koek. Laat staan dit by kamertemperatuur totdat die sjokolade gestol het. Smelt die ganache weer indien dit hard geword het en smeer weer van die ganache oor die koek. Laat weer staan totdat dit hard geword het en drup dan die laaste ganache oor die koek. Versier die koek met sjokoladekrulle of vars blommetjies. Moenie die koek in die yskas sit nie, want dan gaan die sjokolade sy aantreklike glans verloor.
Resep en foto uit Tuis.






