Skil die pynappels,sny alle ogies uit en sien toe dat daar geen kneusplekke aan is nie. Sny die stronk met ‘n appelboor uit. Sny die vrugte oordwars in skywe of oorlangs in lang repe op. Die skywe kan weer in wiggies of blokkies opgesny word.
Maak die pynappels in volgens die oopkastrol- of waterbad metode. Vir albei metodes is dit nodig om vooraf ‘n matige stroop van 200g wit suiker vir elke 500ml water te kook.
Pynappelringe kan aantreklik in flesse gepak word. Plaas die ringe met ‘n gesnyde kant teen die wand van die fles en hou dit in posisie met pynappelwiggies of -blokkies. Plaas ‘n rooi of groen glanskersie in die opening waar die stronk was.
Oopkastrolmetode:
Kook die pynappelringe of -stukke 20 tot 30 minute lank matig vinnig in die stroop. Pak dit in inmaakflesse en vul die flesse tot oorlopens toe met die kokende warm stroop. Verwyder die lugblasies, indien enige, en verseel die flesse dadelik.
Waterbadmetode:
Kook die vrugte 5 minute lank in kookwater en dompel dit daarna in koue water. Dreineer die vrugte en pak dit in inmaakflesse. Vul die flesse met die kokende stroop, verseel dit en draai die skroefringe styf vas, maar draai dit dan ‘n halwe draai los.
Plaas die flesse op ‘n rakkie of vals boom in ‘n waterbad en vul die kastrol met sterk warm water totdat die flesse bedek is. Verhit die water en steriliseer die pynappels 25 minute lank by 100*C.
Haal die flesse uit en draai die skroefringe dadelik styf vas.
GLANSPYNAPPELRINGE
Skil ‘n pynappel, sny dit in 1cm dik skywe op en sny die stronkgedeelte van elke skyf uit. Posjeer die pynappelringe in ‘n bietjie water tot net sag en plaas dit op ‘n draadrak om te dreineer.
Meet 300ml van die posjeervloeistof af en voeg 175g wit suiker daarby. Verhit dit stadig tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is.
Plaas die pynappelringe langs mekaar in n vlak bak en bedek dit met die stroop. Bedek die bak met waspapier en laat die ringe 24 uur lank by kamertemperatuur in die stroop masereer (staan).
Dreineer die pynappelringe op ‘n draadrak in ‘n vlak pan of skinkbord en giet die stroop wat daarin opgevang is terug by die in die kastrol. Voeg 50g wit suiker by die stroop, verhit dit stadig tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Plaas die pynappelringe terug in die vlak bak, giet die stroop oor, bedek dit en laat dit weer 24 uur masereer. herhaal hierdie proses 5 keer en voeg elke keer 50g wit suiker by die stroop.
Herhaal die proses weereens, maar voeg 75g witsuiker by en laat die ringe 48 uur masereer. herhaal die proses nog ‘n keer, voeg weer 75g wit suiker daarby, maar laat die ringe 4 dae masereer. Die stroop moet nou die dikte van heuning hê en die ringe kan tot 3 weke daarin gelaat word. Bedek dit steeds met waspapier.
Om die glasering te voltooi, droog die ringe ‘n paar uur lank in ‘n koel oond uit en draai die ringe gedurende die proses 1 keer om.
Verpak die glanspynappelringe in lae in ‘n karton- of houthouer met waspapier tussen in.
Resep: Lekker vir later (Anette Human)
Foto: geleen
Posted: Amanda Conradie