Sny groen vye waarvan die binnekant nog nie hol of verkleur is nie. Sny met ‘n skerp mes ‘n kruisie deur die blomogie van elke vy. Vryf die skil met growwe skuurpapier af of rasper met ‘n fyn neutrasper af. Weeg die hoeveelheid vye af. Week dit oornag in ‘n oplossing van 25 ml sout per 2,5 liter water; plaas ‘n omgekeerde bord oor die vye en sorg dat die soutwater die vye heeltemal bedek.
Spoel die vye die volgende oggend goed af in ‘n vergiettes onder lopende koue water.
vul ‘n groot konfytkastrol half met water en laat dit kook. Los 2 ml blouvitrioel of kopersulfaat (by apteke beskikbaar) daarin op – dit verseker dat die vye ‘n mooi groen kleur het. Plaas die vye in die kastrol en verhit dit tot kookpunt. Dreineer dit dadelik en spoel dit goed in vars water af.
Vul die kastrol half met vars water en verhit dit tot kookpunt. Plaas die vye en ‘n paar afgespoelde jong vyeblare daarin en kook dit ongeveer 4 minute oor matige hitte totdat ‘n skerpgemaakte vuurhoutjie maklik in ‘n vy gesteek kan word. Dreineer die vye.
Gebruik vir die stroop 7,5 liter water, 3 kg wit suiker en 50 ml suurlemoensap of 10 ml kremetart per 2,5 kg vye. Verhit die water en suiker stadig tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Plaas die sag gekookte vye geleidelik in die kokende stroop. Kook dit ‘n halfuur lank oor matige hitte sonder ‘n deksel. Haal die kastrol van die stoof af, sit die deksel op en laat die vye oornag in die stroop masereer.
Skep die vye die volgende oggend met ‘n gleuflepel uit die stroop en sit dit opsy. Verhit die stroop tot kookpunt en plaas die vye geleidelik teurg in die kokende stroop – dit moenie ophou kook nie. Kook die vye ‘n uur lank oor matige hitte en skuim die konfyt dan af. Die vye kan nou weer tot die volgende oggend opsygesit, uitgehaal en terug in die kokende stroop geplaas word. So nie kook die vye totdat die stroop so dik soos kasterolie is. Kook intussen in ‘n aparte kastrol ekstra stroop, want dit is gewoonlik te min teen die tyd at dit die regte dikte het. Voeg hierdie stroop, die kremetart of suurlemoensap en 12,5 ml suiwer gliserien teen die end by die vye s’n en laat dit goed deurkook. Bottel warm en verseël dadelik.
Resep geplaas deur Petro Borchard