

SWARTWOUD KERSIEKOEK
Deeg:
100 g(110 ml) botter of margarien
180 g (325 ml, ongesif, afgemeet) koekmeel
100 g (200 ml) mielieblom
50 g(125 ml) kakao
10 ml bakpoeier
6 ekstra-groot eiers
150 ml warm water
210 g (250 ml) strooisuiker
Vulsel en versiersel:
2 blikke (400 g elk) rooi kersies
20 g (40 ml) mielieblom
rooi voedselverkleursel(opsioneel)
10 g (15ml) gelatien
50 ml water
500 ml room
15 ml strooisuiker
Kirschwasser
1 pakkie (100 g) sjokolade-vermicelli
Voorverhit oond tot 200ºC (400ºF).
Smeer n veerpan van 23cm in deursnee, of bespuit dit met kleefwerende middel.
Bedek die boom van die pan met gesmeerde waspapier.
Verroom die botter of margarien, dit moet loperig wees maar nie gesmelt.
Sif die koekmeel, mielieblom, kakao en bakpoeier saam.
Klits eiers effens in ‘n groot mengbak. Voeg die water by en klits vinnig totdat die mengsel dik en sponsagtig is.
Klits die suiker geleidelik by; klits totdat dit liggeel en dik is.
Sif die meelmengsel op die eiermengsel. Vou die meelmengsel nou liggies met ‘n metaallepel in die eiermengsel in. Voeg die botter of margarien by en vou dit ook liggies in; vou elke keer in net tot gemeng.
Skep die deeg in die koekpan. Bak dit 45 to 60 min op die middelste oondrak.
Keer dit versigtig op ‘n draadrak uit, verwyder die waspapier en laat die koek afkoel. Sny die koek in 3 ewe dik lae wanneer dit heeltemal koud is.
Dreineer die kersies en hou 200 ml van die stroop waarin hul ingemaak is.
Ontpit die kersies indien nodig. Hou 12 kersies eenkant vir versiering.
Meng die mielieblom en 200 ml kersiestroop en kook tot dik en deurskynend.Kleur dit dieprooi met rooi voedselverkleursel indien verkies. Voeg die kersies by, meng en laat effe afkoel.
Strooi die gelatien op die water en laat dit week. Smelt die geweekte gelatien oor kookwater. Klits die room tot amper styf. Klits die gelatien geleidelik by en klits totdat die room styf is. Klits die strooisuiker by en geur die room met ‘n bietjie Kirschwasser.
Besprinkel die koeklae ook met Kirschwasser. Smeer die kersievulsel op die onderste laag en bedek dit met ‘n kwart van die room. Plaas ‘n tweede koeklaag op die kersie-en-roomvulsel en druk dit liggies vas. Bedek hierdie koeklaag met ‘n kwart van die room. Plaas die derde koeklaag bo-op en druk dit liggies vas. Smeer van die oorblywende room bo-op en aan die kante. Druk die sjokolade-vermicelli teen die kante vas.
Foto: Martie Fourie Moolman






