Hierdie is nie vir groentjies en iemand wat haastig is nie.Jy het geduld nodig.Dit hang nou af hoeveel brood jy wil bak.n 2.5kg meel bak omtrent 3 brode. Ek het 5kg witbroodmeel gebruik. Daar het 5 brode uitgekom en nog 9 oondbroodjies wat amper soos n ronde bun lyk. As ek hulle nie gemaak het nie,sou ek 6 brode gebak het. So dis omtrent n brood vir elke kg meel
Onthou daar is mos n kg meel in die suurdeeg ook. Die oggend na jy ingesuur het soos wat die resep se,vryf jy n koppie margarien vir elke 2.5kg in die meel in. 2 Teelepels sout vir elke kg meel. As jou suurdeeg vol gerys is,gooi die suurdeeg daarin en knie dit goed tot n lekker deeg. Gooi lekker warm water by as die deeg te droog is. Maak die deeg toe en hou dit warm sodat hy dubbeld die grootte rys. Dan smeer jy die panne. As die deeg vol gerys het,knie jy dit weer af en verdeel dit in mooi gelyke dele en rol dit so lekker glad tussen jou hande en plaas in die pan. Die deeg sal omtrent 50 mm dik in die pan lê. Maak weer die panne toe met n kombers. Ek sit hulle op n elektriese kombers om warm te kry en te rys.Of agter in die bakkie se kappie wat in die son staan. Dan rys hy lekker. Mense dis n lang proses. Ek waarsku julle. As die panne amper vol is,plaas hulle in n voorverhitte oond en bak vir 45 min teen 160 grade en die laaste 15 min teen 180. Gooi uit op n draadrak en laat redelik afkoel voor jy begin eet. Hou die bure weg. Anders deel jy alles uit. Ek sny my brode in 2 en vries dit. Ontvries dit in die mikrogolf soos nodig. Pasop om op mekaar te pak as hulle nog warm is, anders duik hy in op die gesnyde kant.
Suurdeeg resep: https://foodloversrecipes.com/kookwater-suurdeeg/
Dawie vD Heever