PLANT ‘N AVOKADO BOOM
Nou eers begin by die begin
As die geil, maar gesonde botterigheid van ‘n avokado (Persea americana) jou voete onder jou uitslaan, is dit tyd om een van dié immergroen subtropiese reuse te plant.
Dis ‘n klaaglied so oud soos die berge: My avokadoboom is groot en groen en gesond, maar dra dié wil hy nie. Die waarskynlikste redes hiervoor is:
• Jy het ‘n pit geplant: Bome wat van saad gekweek word, kan tot 15 jaar neem om te begin blom en vrugte dra (of selfs glad nie dra nie), terwyl geënte kwekerybome jou binne 3-4 jaar met vrugte sal beloon.
• Jy het die enigste boom in die buurt: Avokadobome dra perfekte blomme wat op verskillende tye eers vroulik is (dus stuifmeel “ontvang”) en daarna manlik (stuifmeel word vrygestel). Dis belangrik om in blomtyd al twee soorte blomme te hê om bestuiwing te verbeter. Hoe meer bome, hoe meer vreugde.
• Jou boom is “normaal”: Selfs avokadoboere kla oor wisselvallige opbrengste met minder en kleiner vrugte. Navorsers ondersoek tans die invloed van klimaatsveranderings (ook op mikrovlak), asook nuwe ent- en snoeimetodes.
Kweekwenke
• Plant ‘n geënte boom: Die gewildste variëteite wat by plaaslike kwekers beskikbaar is, is ‘Fuerte’ met sy dun groen skil, die meer neutagtige ‘Hass’ wat swartpers verkleur as dit ryp is, en ‘Ryan’.
• Die regte grond: Omdat avokadobome ‘n relatief vlak wortelstelsel het, moet die grond los, sanderig en vrugbaar wees, maar bowenal uitstekend dreineer. Die bome het baie sonlig nodig, veral as die blomme vorm, en vaar sleg in streke waar die wind erg waai as dit blom of die vrugte nog klein is. Ryp is ‘n ander sondaar.
• Plant ‘n pit: Was die pit en druk drie tandestokkies in die boonste derde (die gedpunte deel na bo) sodat jy dit oor ‘n glas of fles vol water kan hang met die breër basis na onder. Hou die fles op ‘n vensterbank waar dit baie lig kry (maar die minimum direkte sonlig) en vul die water gereeld aan sodat die onderste derde altyd onder water is. Die pit sal binne sowat 2-3 weke begin kraak en in die volgende maand ‘n wortel en later ‘n stammetjie uitstuur. Wanneer die uitloopsel 10-15 cm lank en die wortels dikker is, kan jy die groeipunt uitknyp of korter knip en die pit uitplant in ‘n pot met een deel sand, twee dele potgrond en een deel kompos. die put moet weer geplant word met 2.3 onder die grond en die res bo die grond. mens kan die uitloopsel ‘n tweede keer terug knip dit veroorsaak net dat jou plant mooier vorm.
Wanneer jy dan jou boompie uit die pot in die grond wil plant is die volgende belangrik: Grawe ‘n gat van ongeveer 1 m x 1m x1m , geen ekstra kunsmis is nodig nie en veral nie hoendermis nie. Plant die boompie op dieselfde diepte as wat hy in die pot of plantsak was.
Dit is belngrik om nie onlangs geplante bome te gou te bemes nie, die jong bome moet eers vestig en aktief begin groei – tot ‘n jaar, en dan moet die toediening baie lig wees, die kunsmis moet baie egalig toegdien word en nie kontak maak met die boom stam nie. Dien dadelik ligte besproeing toe.
Avokado’s is baie sensitief vir vog stress, so moenie te nat maak of te droog laat word nie.
Terloops, avokadobome is ook mooi huisplante. Ja julle hoor reg, dit maak ‘n pragtige huis plant, net soos die ficus, plaas dit naby ‘n sonnige venster, snoei soos jy wil en die plant sal pragtig groei en na ongeveer 10-15 jaar nog dalk begin vrugte dra ook as jy hom van ‘n pit gekweek het. Die gillogly avokado boom is ‘n dwerg spesie en dit groei geod binne en buite, avokado bome bestuif hulle self so ja hy kan self in die huis vrugte dra.
Die grond moet met nat gehou word en nie deurdrenk word nie, avokados hou nie van teveel water nie
Plant enige tyd van die jaar maar die beste tyd is gedurende die herfs sodat die jong bome geod kan inburger gedurende die winter en dan ernstig kan begin groei in die lente en somer
Peste en plae
• Gesels met jou kwekery as jy siektes of insekte gewaar. As die blare vergeel, kry die boom waarskynlik te veel water (laat dit vir ‘n dag of vier uitdroog). As die blare bruin en bros word aan die punte, is daar dalk te veel sout in die grond.
Nou ja nou dat ons meer weet van hoe om vir jou ‘n boom te plant en waarvoor om te kyk, hoop ek elke een gaan een plant.
Geskryf deur Rina Kleinhans







