Hoewel dit eintlik baie eenvoudig is om te maak, lyk hierdie driehoekvormige kaaskoek altyd baie spesiaal. ‘n Mens kan dit maande lank in die vrieskas bewaar, maar ek sê dit net ter inligting, want die kaaskoek is so onweerstaanbaar lekker dat dit gewoonlik opgeëet is voordat die eerste maand om is.
Ek roer partykeer ‘n bietjie fyn gekapte neute by die maaskaasmengsel en laat die glanskersies ‘n rukkie in brandewyn week. ‘n Mens kan ook ‘n bietjie soetwyn of sjerrie oor die Tennis-beskuitjies sprinkel voordat die maaskaasvulsel opgeskep word.
KAASKOEK:
1 k suiker
125g margarien
1 eier
7 ml vanieljegeursel
1 houer (250g) fyn maaskaas
15 Tennis-beskuitjies
12 – 13 heel glanskersies
VERSIERSEL:
1 plak (100g) melksjokolade
50 g margarien
30 ml suiker
30 ml kakao
15 ml water
Verroom die suiker en margarien saam. Klits die eier en vanieljegeursel by. Voeg die maaskaas by en roer net tot gemeng. Verkil die mengsel tot smeerbaar styf as dit baie slap is.
Rangskik die tennis beskuitjies in 3 rye van 5 beskuitjies elk op ‘n groot stuk aluminiumfoelie. Smeer die helfte van die maaskaasmengsel oor die beskuitjies.
Plaas die glanskersies in ‘n ry op die middelste beskuitjies. Skep die res van die vulsel op die glanskersies.
Lig die beskuitjies aan die buitekant met behulp van die foelie op en vou dit na mekaar toe om ‘n driehoek te vorm met die vulsel in die middel. Vou die kaaskoek styf in die foelie toe. Vries dit.
Breek die melksjokolade in blokkies in ‘n diep, mikrogolfvaste bakkie met ‘n volume van 500 ml. Voeg die margarien, suiker, kakao en water by.
Mikrogolf die mengsel 1½ minuut lank oop by 70% krag. Roer dit baie goed tot ‘n gladde, blink versiersel.
Smeerdie versiersel aan die bevrore kaaskoek. Vou dit weer toe in die foelie en bewaar dit in die vrieskas.
Chantelle Geldenhuys








