Dit is ‘n wonderlike gereg om te maak vir ‘n feestelikheid op ‘n warm dag. Die foto is myne en is geneem tydens ‘n oukersaand ete by my huis. Die oorspronklike resep het ek gekry in ‘n Griekse kookboek “Greek Cuisine” deur Vefa Alexiadou maar ek het die resep nou al aangepas soos ek dit verkies. Ek het dit al verskeie kere met sukses gemaak.
3 hoenderborsies
1 klein ui
2 wortels
sout en peper na smaak
4 gurkens (soet en suur komkommers)
2 hardgekookte eiers
2 teelepels Dijon mosterd
4 Pimiento gevulde olywe, in skywe gesny
pietersielie blare vir garnering
2 eetlepels ongegeurde gelatin
Plaas die hoender in ‘n kastrol met ‘n klein hoeveelheid water en voeg die ui, wortels sout en peper by. Bring dit stadig tot kookpunt en skep enige skuim wat op die oppervlakte mag vorm, af. Bedek en kook stadig tot die hoender gaar is. Lig die hoender uit en ontbeen dit. Sny of breek dit op in klein stukkies, sny die wortels in ringe en meng met die gekapte Gurkens. (Ander pickles van jou keuse kan ook bygevoeg word) Gooi die aftreksel van die hoender en groente deur ‘n fyn sif. Daar moet ongeveer 2 koppies vol wees. Los die gelatin in die warm aftreksel op. (Alhoewel die oorspronklike resep sê 2 eetlepels gelatin vir 2 koppies water, het ondervinding my geleer om maar bietjie meer te gebruik). Voeg ‘n bietjie van die vloeistof onder in ‘n koue vorm (mold) en laat dit in die yskas set.
Sny die hardgekookte eiers in skywe en plaas dit saam met die pietersielieblare en deurgesnyde olywe bo-op die stywe jelly om dit te dekoreer. (Onthou die onderkant van die vorm gaan uiteindelik die bokant wees. Sien die foto). Maak die gekookte ui fyn en meng dit saam met die mosterd by die oorblywende gelatin aftreksel. Voeg die hoender versigtig bo-op die gedekoreerde jellie en giet die gelatin mengsel daaroor. Bedek en hou oornag in die yskas. Wanneer gereed vir bedien, trek ‘n mes liggies om die rand van die vorm en doop die vorm, tot feitlik by die rand, in warm water vir ‘n paar sekondes. Plaas die bord waarop dit bedien gaan word styf teen die bokant van die vorm, draai dit om en gee dit ‘n sterk skud om die vacuum los te kry, en lig die vorm af.
Adam Cloete








