KERSIEKONFYT
Gebruik mooi groot stewige geel konfytkersies en ontpit dit totdat 1.6 kg verkry is. Bind die pite in ‘n stukkie kaasdoek toe. Week die kersies ‘n rukkie in ‘n oplossing van 1.7 liter water en 15 ml sout.
Verhit 1.7 liter water, 5 ml sout en die sakkie pitte tot kookpunt.
Skep ‘n klompie van die kersies met ‘n gleuflepel in die kokende water, moenie dat die water ophou kook nie. Sodra die kersies dryf, voeg die volgende skep kersies by. Dreineer dit wanneer al die kersies dryf. Gooi die pitte weg.
Kook ‘n stroop van
1.2 kg wit suiker
750 ml water
15 ml suurlemoensap
2 ml rooi voedselkleursel
Skep die kersies met ‘n gleuflepel in die stroop. Kook die kersies ongeveer 45 min lank taamlik vinnig. Die konfyt is gereed vir bottel wanneer die stroop die dikte van gliserien het as ‘n bietjie op ‘n koue piering getoets word. Bottel die konfyt warm en verseël dit wanneer koud.