Ek het 1.3kg Skaapnek gebruik. Lekker stadig gaargemaak in ‘n swartboom pot. Het sout en peper en olyf olie ook gebruik na smaak vir daai braai gevoel en die deksel toe opgesit om so bietjie te prut. (Ek is seker ‘n ‘pressure cooker sal net so goed werk).
Het die deksel afgehaal en gewag vir die meeste water om te verdamp. Die vleis uitgeskep in ‘n aparte bak en in die oond warm gehou. Toe het ek twee middelslag uie wat fyngekap was in daai lekker skaapvet gegooi en gebraai. Sodra uie lekker sag en bruin gebraai was het ek die Waterblommetjies (500gram en Mooi afgewas) saam met drie medium aartappels (in dik skywe gesny) in die pot geplaas en met 250ml droe wit wyn bedruip.Ek het ook so ‘n ekstra 25ml suurlemoensap bygevoeg. Die deksel toegemaak en vir ‘n lekker rukkie (Ek skat so 20 minute) op ‘n stadige hitte geprut. Ek het daai ‘sauerkraut’ reuk ervaar wat in die lug begin hang het. Ek was baie versigtig om op hierdie stadium nie te veel te peuter met die kos in die pot nie. Intusen het ek die samp en bone wat oornag in water gestaan het begin kook asook die soet pattat medallions. Nadat ek gevoel het die mengsel in die pot het nou lekker begin saamspeel het ek die skaapnek bygevoeg, sommer so in die pot, en goed gemeng. Ek het die plaat so klein bietjie warmer gestel en vir ‘n verdere 20 minute geprut.
En Voila. (Wil net byse dat ek die waterblommetjies vooraf in soutwater laat le het vir so ongeveer 1 uur)
FOTO EN RESEP: Erno Van Dyk








