
WARM SPEK- EN EIERSLAAI
Genoeg vir 4 mense
4 groot eiers
250 g strepiespek in 3 cm stukkies gesny
½ wit korsbrood of plaasbrood in happiegrootte stukkies gesny
1 pakkie gemengde slaaiblare
125 ml babatamaties, middeldeur gesny
125 ml mange tout ertjies, gekook en gedreineer
1 avokado, geskil en gesny
Vars parmesaanskaafsels en basielblare om voor te sit
SLAAISOUS
100 ml Mayonnaise van goeie gehalte
5 ml Dijon mosterd
25 ml gerasperde parmesaan
35 ml melk
25 ml sonneblomolie
Verhit `n kastrol met water tot kookpunt. Sit die eiers in die kokende water en kook dit vir presies agt minute. Dreineer dit en giet koue water oor die eiers. Haal dit uit die water en dop dit af.
Verhit `n groot pan. Plaas die spek in die pan en braai dit vir ‘n paar minute totdat dit begin sis. Voeg die stukkies brood by en braai dit saam oor lae hitte totdat die spek en brood bros is. (dit sal 10 tot 15 minute duur.) Voeg ‘n bietjie sonneblomolie by as die pan te droog is.
Meng al die bestanddele vir die slaaisous saam.
Meng die slaaiblare, tamaties en ertjies saam en rangskik dit op ‘n opdienbord. Sny die eiers middeldeur en pak dit bo-op. Sit die avokado, spek en croutons bo-op en geur dit na smaak. Drup die slaaisous oor. Strooi parmesaankaasskaafsels en basielieblare oor en sit dit dadelik voor.






