LORRAINE SE APPELTERT
Ek is nie baie trots op myself hieroor nie, maar ek het iemand omgekoop (met geld) om hierdie FANTASTIESE appeltertresep skelm af te skryf. Dit is op my boekie en nie hare nie. Maar al sou ek uitgevang gewees het, is dit steeds die skandes en skades die moeite werd. Dekadent verby!!
DEEG
230 g (250 ml) margarine
525 g (4 x 250 ml) meel
200 g (250 ml) suiker
10 ml kremetart
2 groot eiers geklits
3 ml sout
5 ml koeksoda
25 ml melk
Verroom margarine en suiker saam. Voeg eiers by en meng goed. Sif meel, kremetart, koeksoda en sout saam. Voeg by eiermengsel. Meng alles saam tot ‘n stywe deeg. Druk in vuurvaste bak. Los genoeg vir versiering (sien onder). Bak in oond (180 ºC) tot ligbruin. Laat ‘n rukkie rus terwyl vulsel gemaak word.
VULSEL
850 g blik pie apples
100 ml vla (aangemaak)
75 g (100 ml) rosyntjies
100 g (125 ml) bruin suiker
50 ml brandewyn
2 eiers
50 ml melk
50 ml suurlemoensap
30 ml gemengde speserye
20 ml kaneel
Meng alles saam en kook tot mengsel dik word. Laat afkoel. Gooi vulsel in kors. Sny repies deeg en plaas oorkruis oor vulsel. Meng bietjie botter en appelkooskonfyt en smeer bo-op. Bak tot ligbruin. Bedien met room of roomys.
RESEP EN FOTO: Lorraine Weitz Brand