

DENNINGVLEIS
Denningvleis het die Maleiers vir ons gegee. Die woord beteken gegeurde vleis. As jy nie tamaryn in die hande kan kry nie, kan jy ‘n bietjie suurlemoensap of ‘n kwartkoppie asyn gebruik. Maar tamaryn is eintlik die regte ding.
12.5 ml skaapvet
2 knoffelhuisies, gekneus
2 uie, in ringe gesny
10 ml suiker
1 kg dunrib of boudvleis (skaap)
4 kruie naeltjies
4 wonderpeperkorrels
2 lourierblare
sout en peper
raspertjie neutmuskaat
125 ml water
2.5 ml tamaryn
nog 125 ml water
Smelt die skaapvet in ‘n swaarboomkastrol. Voeg die knoffelhuisies en die uie daarby.
Strooi suiker oor en smoor so in die pan tot die uie goudkleurig is. Skep uit en sit die vleis in die kastrol.
Die vleis moet in stukkies gesny wees. Braai dit ook tot dit begin verkleur.
Voeg nou die kruie naeltjies, wonderpeperkorrels, lourierblare, sout, peper en ‘n raspertjie neut by die vleis en skep die uie en knoffel terug in die pot.
Voeg 125 ml water by, sit die deksel op en stowe die vleis tot sag. Dit neem ongeveer 1 tot 1½ uur.
Week intussen die tamaryn in die orige 125 ml water. Syg die water deur ‘n fyn sif en voeg dit by die vleis.
Laat weer stowe, net so ‘n rukkie om die geure goed te meng, en sit voor met rys of gekookte aartappels.
Geplaas deur Berie Smith
Foto: Elsa Van Antwerpen Kleinhans






