VARKBOUD MET ROSYNESOUS
Kwepers is altyd heerlik saam met varkboud
1 varkboud van 4 kg.
‘n mengsel van gedroogte kruie soos knoffel, soetrissie, paprika, sout en varsgemaalde swartpeper, en gemaalde koljander.
Sny met ‘n skerp mes gleuwe dwars en kruis oor die vel indien verkies, maar nie nodig nie. Vryf vleis in met geurmiddel mengsel. Plaas in ‘n groot dikboom kastrol en braai goudbruin rondom. Voeg ‘n bietjie water by, (tot half pad teen die vleis). Verminder die hitte en prut vir 3 uur oor matige hitte. Vul water aan soos dit weg kook. Toets vleis vir gaarheid. Druk ‘n toetspen in die dikste deel, as daar nie bloederige vloeistof uit kom nie, is dit gaar. Plaas vleis vetkant na bo op die rakkie van die oondbraaipan en rooster onder voor verhitte rooster element tot vel bruin is. Sny in skywe en sit voor met rosynesous.
ROSYNESOUS
60 ml margarine
15 ml koekmeel
250 ml kookwater
10 ml vars suurlemoensap
60 ml rosyne
Sout en peper
5-10 ml Franse mosterd met heel mosterdsaad of engelse mosterd
10 ml suiker
Smelt 15 ml van die margarine, voeg meel by en braai 1 min oor matige hitte. Verwyder van die hitte, voeg kookwater by en klop met draadklopper tot glad. Plaas terug op matige hitte en klop orige margarine geleidelik by. Verwyder van hitte en roer suurlemoensap en rosyne by. Plaas terug op lae hitte, geur met sout, peper, mosterd en suiker en prut vir 1-2min.
Resep geplaas deur Rina Kleinhans
Foto: Jean-Pierre Rossouw








