Koop ‘n blokkie vars suurdeeg of gebruik een pakkie kits suurdeeg
1 medium aartappel, geskil en gerasper
1 eetlepel sout
2 eetlepels suiker
1 liter louwater
Meng alles en sit op ‘n warm plek. Soos bv. in lou-oond met deur effens oop. Wanneer dit gerys het, daar sal borreltjies in bottel wees en skuim bo-op, dan gebruik jy die vloeistof om te knie en die aartappel bedek jy weer met bietjie louwater. Dis jou plantjie – volgende keer, skep jy bietjie van die aartappel uit en voeg net aartappel, sout, suiker en louwater by.
Ria N. Pieterse
Julle kan die resep volg – brood en beskuit gebak met aartappelsuurdeeg is ‘n uitsonderlike smaak. Ek het nog die voorreg om dit soms in ‘n houtstoof te bak, dis ‘n smaaksensasie uit die boonste rakke. As jy die resep hierbo vat. Dis genoeg vir 1-2 kg meel vir brood. Ek sit alles in ‘n Liter consolbottel en sit net ‘n piering bo-op met die rysproses. Wanneer die suurdeeg gerys het, neem die vloeistof, halfkop kook/olyfolie en knie dit in 1 kg koekmeel tot die deeg glad en elasties is, ek gooi nie ekstra sout in nie. Maak die deeg toe in ‘n bak met plastiek en ‘n dik kombers, laat deeg rys tot dubbel in grootte, dit vat omtrent 8 ure. Knie af en vorm 2 -3 klein brode of 1 groot brood. Laat rys weer tot bokant pan rand. Stel oond op 180°C en bak brood 1 uur. Haal uit die pan en smeer botter of water oor korsie. Laat staan oop tot korsie hard is en afgekoel voor jy sny, of draai toe in brooddoek tot afgekoel en bêre tot benodig en daarna in plastiese sak.







