GLIPPERTJIE DRUIWEKONFYT
Ek kook al my konfyt basies op dieselfde manier:
Vir elke 1 kg vrugte gebruik jy n driekwart kg suiker
Bietjie suurlemoensap en 1 teelepel Kremetart
Jellie vir skou:
Gebruik 1kg druiwe korrels sonder stammetjies afgeweeg (was skoon). Druk die druiwe stukkend met n masher.
Voeg 1k water by. Moenie nou die pitte en skille verwyder nie.
Plaas op lae hitte, wanneer dit prut roer aanhoedend, dit moenie brand nie.
Suig die sap deur n doek sodat daar nie pitte en skille in die jellie kom nie.
Voeg nou suiker by die sap en plaas op lae hitte tot suiker gesmelt het.
Kook vinnig en skep skuim af.
Toets gereeld of die jellie die regte struktuur bereik het.
Bottel warm in skoon gesteriliseerde bottels.
Konfyt – ek maak myne altyd op die manier:
1kg druiwe korrels skoon gewas
‘n Driekwart kg suiker
1 teelepel kremetart en bietjie suurlemoensap.
Voeg 1k water onder op die bodem van die pot.
Voeg nou suiker en vrugte in lae in die kastrol.
Voeg die ander bestanddele by.
Plaas op lae hitte tot suiker gesmelt het.
Wanneer begin kook, kook lekker vinnig, roer aanhoudend sodat dit nie brand nie. Skep skuim af.
Terwyl dit kook kom die pitte en skilletjies na bo, ek gebruik n growwe sif en druk die konfyt daardeur.
Ek wil die vleis van die druiwe in my konfyt he en net die pitte en doppies bly agter.
Sorg dat die konfyt warm is wanneer jy dit bottel.
Indien jy die pitte en skilletjies net wil afskep is dit ook reg.
Indien daar n paar pitte en skilletjies in die konfyt is, maak dit nie saak nie, dit gee karakter aan die konfyt.
Plaas in gesteriliseerde bottels.
Baie mense verkies ook die skilletjies maar skep net die pitte af.
Indien druiwe te suur is gebruik dan 1kg suiker
Ek neem n plastiese melkbottel of enige ander plastiese bottel, sny die onderste gedeelte af en gebruik die boonste deel en giet my konfyt daardeur in die bottels in. Dit werk wonderlik
FOTO: Alida Nortje
BRON: Ouma Sannie Jonck se resep