GEPOSJEERDE EIER MET HAM EN HOLLANDAISE SOUS
Hierdie resep maak ek gereeld en dit is heerlik en ‘n groot sukses, ek sit so bietjie gewone room by die sous indien dit te dik is na jou smaak. My eie egg benedict! Gebruik die eierwitte wanneer jy weer roereier maak of maak ‘n pavlova of skuimpies.
Hollandaise sous:
3 eiergele
20 ml suurlemoensap
100 g sagte botter
25 ml warm water
1 ml sout
2 ml peper of na smaak
2 ml mosterd poeier
2 ml suiker
Geposjeerde eiers:
500 ml kookwater
10 ml asyn
10 ml suiker
2 ml sout
4 eiers
Ekstra:
4 bagels (buns)
2 groot handevol roket
8 snytjies ham
Grasuie
Swartpeper
Maak die sous:
Meng die eiergele, suurlemoensap, botter, water, mosterd, suiker, sout en peper.
Verhit die mengsel sowat 5 min in ‘n dubbelkoker tot die sous effens verdik.
Nota – Kan in die mikrogolf ook gedoen word, roer net baie gereeld, die sous verdik baie vinnig.
Laat effens afkoel.
Indien die sous te dik is kan jy bietjie melk/room bysit en weer net vinnig warm maak.
Voorbereiding:
Rooster die bagels tot bros en goudbruin.
Rangskik op elke bord, sit roket op elke bagel, vou die ham en plaas bo-op die roket.
Nota – Ek het die ham warm gemaak deur dit vir paar sekondes op my warm plat rooster te sit nadat ek die bagels gerooster het, maar nie vereiste nie – opsioneel.
Geposjeerde eiers:
Kook die 500 ml water in ‘n kastol, voeg die asyn, suiker en sout by. Verhit tot begin prut. (water moenie te vinnig kook nie)
Breek die eiers een-een in ‘n piering, en laat gly in die water in, posjeer hulle tot hulle na jou smaak gaar is.
Skep van die warm water liggies oor die eiers aan die einde sodat die vlief oor die geel net seël.
Plaas die eiers bo-op die ham en skep van die hollandaise sous bo-oor.
Garneer met grasuie en swart peper.
Aangepas en foto: Rina Kleinhans
2 thoughts on “GEPOSJEERDE EIER MET HAM EN HOLLANDAISE SOUS”
Leave a comment
You must be logged in to post a comment.
Done
Geskuif