

KOEDOE-SKENKEL SULT
Hier is my sult sonder enige afval:
2 groot uie, gekap
2 knoffelhuisies, gekap
ongeveer 3 kg wildskenkels
½ koppie donker asyn
½ koppie water
Plaas bogenoemdes alles in ‘n slow-cooker. Ek het my wildskenkels sommer gevries ingesit, dit op hoog gekook vir 8 ure, tot die vleis van die bene afgeval het. Laat dit koud word, en ontbeen die vleis heeltemal.
1 eetlepel kerriepoeier
1 eetlepel borrie
1 teelepel koljander, fyn
1 teelepel gemmer, fyn
1 teelepel kaneel, fyn
Braai hierdie speserye in ‘n bietjie olie vir 1 minuut in ‘n groterige kastrol, sit by die vleis in.
Voeg by:
250 ml water
1 suurlemoen se sap
1 teelepel wit peper
6 eetlepels fyn appelkooskonfyt
sout na smaak
Verhit tot kookpunt, roer lekker deur. Haal van stoof af, skep in ‘n gesmeerde vlak pan en laat afkoel. Sit in yskas om te stol.
Dit is lekker om in die yskas te hou vir so tussen-deur pik, of vir ‘n koue vleisbord saam met bietjie soet mosterd.
Resep:Annelore Von Solms Joubert






