
GEVULDE VARKRIBBETJIE
Verras u gesin of gaste met die smaaklike, ekonomiese gereg. Die varkribbetjie word ontbeen (vra die slagter om dit vir u te doen), gevul en in die oond gaargemaak.
As u vooraf met ‘n baie skerp mes skywe 1/2 cm uitmekaar in die vel afmerk, sal die oortollige vet tydens die gaarmaak dreineer en die voorsny sal aansienlik vergemaklik word.
1 kg varkrib, ontbeen en die vel ingesny
growwe seesout
vars gemaalde swartpeper
VULSEL:
1 groot ui, gekap
½ koppie (125 ml) gekapte selderystingels
1 teelepel (5 ml) droë salie of 1 eetlepel (15 ml) vars salie
2 Granny Smith-appels, ongeskil en grof gekap
1 groen soetrissie, ontpit en gekap
1 eetlepel (15 ml) botter
1 eetlepel (15 ml) olie
1 eetlepel (15 ml) suurlemoensap
1 teelepel (5 ml) suiker
½ teelepel (2,5 ml) sout
knippie vars gemaalde swartpeper
3 – 4 snytjies roosterbrood, in klein blokkies gesny
Gebruik die punt van ‘n skerp mes om ‘n lekker diep sak in die ribbetjie te sny sodat dit soos ‘n klein kussingslopie lyk.
Geur die vleis binne en buite met sout en peper.
Braai die gekapte groente en kruie in ‘n olie/botter-mengsel tot sag en glansend.
Geur met suurlemoensap, suiker, sout en peper. Voeg die roosterbroodblokkies by.
Stop die ribbetjie met die vulsel. Werk die opening toe.
Oondrooster 1½ uur lank by 180°C. Laat rus vir 10 minute terwyl u die sous maak.
Sny voor in skywe. Sit voor met gebakte aartappels, ‘n bruin uiesous en beskikbare groentes.






