Sprinkel een ontvelde, ontbeende hoenderborsie met geursel- of braaisout en braai tot goudbruin en gaar.
Laat effens afkoel voor jy dit in skyfies sny.
Braai vier tot vyf repies strepiespek per broodjie.
Sny ‘n heerlike vars rooi tamatie in ronde skywe en spoel blaarslaai af.
Rooster drie snye wit-, bruin of wit- en bruinbrood.
Meng mayonnaise met mosterd om te geur.
Smeer al drie snye brood daarmee.
Pak die hoenderstukkies op die eerste broodjie, plaas ‘n sny brood daarop, pak dan tamaties, sprinkel met sout en varsgemaalde swartpeper en pak dan die blaarslaai en spek daarop.
Eindig met die laaste broodjie en jy het een smaaklike trippelbroodjie.
Om die broodjie te sny, het jy vier tandestokkies en ‘n mes nodig. Druk ‘n tandestokkie in die middel van elke kant dwarsdeur die broodjies tot onder.
Sny dan jou vier driehoeke, die tandestokkies sal alles bymekaar hou.
WILNA MYBURGH