KAAS EN UIE SOP
Bestanddele se hoeveelhede is na gelang van eie keuse.
uie in skywe gesny
Cheddar- / Feta- / Mozzarellakaas
2 liter melk
1 koppie koekmeel
1 eetlepel mosterdpoeier
1 eetlepel fyn knoffel (kan verminder indien verkies)
Braai die uie in ‘n warm pan tot soos waarvan jy daarvan hou (ek hou van groot stukke ui, baie bruin gebraai). Plaas eenkant tot benodig.
Rasper die kaas en plaas eenkant (hoeveelhede en tipe kaas is eie keuse, ek gebruik ‘n mengsel van Cheddar, Feta en Mozzarella).
Giet die melk in ‘n kastrol en verhit op die stoofplaat tot kookpunt. Verwyder van die hitte.
Meng die koekmeel met ‘n bietjie koue melk tot ‘n pasta en voeg dit by die kokende melk, roer vinnig dat dit nie klonte vorm nie. Plaas die kastrol terug op die hitte en verhit totdat die melk verdik en die meel gaar is.
Giet die dik melkmengsel deur ‘n sif, in ‘n ander kastrol, om enige klonte te verwyder.
Meng die mosterdpoeier, knoffel, gebraaide ui en kaas by die melkmengsel en roer goed deur. Verhit tot kookpunt en verwyder van die hitte.
Dien op met tamatie roosterbrood. Perfek vir ‘n koue wintersaand.
Resep: Glenda Labuschagne






