FONDUE IDEES EN ETIKET
Foto 1: Petro Borchard:
Ons gebruik ‘n elektriese braaipan waarmee jy die hitte maklik kan beheer, geen gevaar van omval nie en genoeg spasie vir 8 mense met 5 vurkies elk om tegelyk hul kos te braai.
Elke person het ‘n groot bord en 3 klein bakkies waarin hulle souse van hul keuse kon skep (ons het kaassous, Korma kerriesous en sampioensous gehad).
Die items beskikbaar om te braai, beesfilet, redelike groot blokke sodat dit nie te gou oorgaar word nie, hoenderfilet blokkies, spekwors, gaar baba-aartappels, eiervrug en sampioene.
Daar was ook ‘n lekker Ciabatta en groot mengelslaai by bedien.
Louise Groenewald:
Ek hou baie van fondue! Ons het dit verskriklik baie gedoen in die 80’s. En dan het ons sommer tema aande saam met dit gehou. Wat is dan nou lekkerder as piekniekkombers op die mat en groot kussings vir almal om op om te val as die magies vol raak. Ons het altyd een van die potjies met witwyn gevul i.p.v. die olie.
Jou kos word ook heerlik gaar so, maar sonder die olierigheid. Ons het altyd repies steak, hoenderrepies, sampioene, gesnyde murgpampoentjies, worsies (enige soort), enige “nuggets”, calamari ringetjies, spekrolletjies met feta in (die feta loop nie uit nie).
Ons bedien ‘n slaai saam met die fondue en warm souse soos peper of sampioen.
Vir poeding het ons dik sjokoladevla gemaak en mashmallows daarin gedoop. Dis nie so ryk soos net sjokolade nie. En nee, fondue is nie outyds nie, ons doen dit nog gereeld. Vandag is daar natuurlik elegante elektriese stelletjies, maar die spirits brandertjie verleen tog ‘n spesiale sjarme aan so ‘n aand. En moenie die “strafdop” vergeet as jy jou vleisie in die pot verloor nie!
Lesdee Gloak Bam:
Ons het gisteraand “ge-fondue” saam met vriende. Blokkies hoender, verskillende worsies, spek, sampioene, gestoomde broccoli, blomkool, baba-aartappels met suurroom, pakkies van die hoender en vis met degie om, brooddeeg en verskeie gekoopte doopsouse.
My vriendin Cate het die “kaassous” (laktoosvry) gemaak deur knoffel, “nutritional yeast”, sojamelk en meel te meng en op te kook tot dik, net voor bedien, het sy ‘n botteltjie bier by die kaassous gevoeg en weer laat opkook, regtig baie lekker. (Sy het nie mates vir die sous nie, sy meng in soos sy goeddink)
Vir nagereg het ons aarbeie, piesangs, pere en marshmallows in sjokoladesous gedoop. Ek het 3 groot sjokolades gerasper, ‘n blikkie kondensmelk bygevoeg en in die mikrogolf verhit todat die sjokolade smelt, 250 ml room styf geklop en in die sjokolademengsel geroer.
Fondue etiket – Jan Salti Viljoen:
Geen “double dipping” nie, maw moenie ‘n happie vat en dan terugplaas in die olie nie.
Moenie direk vanaf die fondue vurkie eet nie, plaas die gebraaide stukkies kos op die bord voor jou en eet met ‘n aparte vurk uit jou bordjie.
Geen fonduevurk gevegte of kosstelery nie.
Wat gebeur as jou porsie in die fondue pot val? Julle kan self ‘n speletjie uitdink om die persoon te “straf”, bv die volgende fondue word by jou gehou in dien jy ‘n 2de keer die kos laat afval of jy moet die volgende rondte drankies skink of ‘n strafdrankie drink of vir almal poeding skep, enige iets om die aand pret te maak.
Alhoewel witwyn of selfs bier as drankie voorgeskryf word, dink ek ‘n mens moet ingedagte hou dat die idee geskoei is op die traditionele kaas fondue. Ons sal enige wyn en selfs vonkelwyn saam met ons fondue geniet.
Ons het steak, russians, garnale, hoender “pops”, pynappel, ertjies (kon nie aspersies kry nie), sampioene en tamatie vir die fondue gehad.
One thought on “FONDUE IDEES EN ETIKET”
Leave a comment
You must be logged in to post a comment.
Geskuif as “Fondue idees en etiket”