

SLAAIROOM 1
Resep geplaas deur Vidius Archer
FOOD LOVERS RECIPES
My default recipe for the past 15 years:
Hierdie slaairoom is ook ‘n Ina Paarman resep. Jy moet die voedselverwerker die heel tyd laat loop – dis die geheim. Hierdie resep het ek by haar gekry nadat ek haar help dra het aan ‘n oorhoofse projektor in die gange van die universiteit…in 1986, pas nadat ek daar begin werk het (volledige storie elders in hierdie finale Boogskuttersversameling). Waar gaan die tyd heen?! Die oorhoofse projektor was langer as sy! Piepklein vroutjie – ‘n reus van ‘n mens.
4 eiergele of 2 hele eiers
4 eetlepels (60 ml) wynasyn of suurlemoensap
1 teelepel (5 ml) sout
½ teelepel (2,5 ml) peper (Vidius – ek gebruik witpeper)
2 teelepels (10 ml) mosterdpoeier
2 teelepels (10 ml) suiker – 4 of 5?
½ teelepels (2,5 ml) gedroogde gemengde kruie en/of 2 knoffelhuisies (fyn) – albei opsioneel
2 koppies (500 ml) kookolie – gebruik helfte sonneblom-/helfte olyfolie vir ekstra geur.
Voorstel: 2018 – voeg ½ – 1 (vir die gelyste hoeveelheid ) verpulpte avokadopeer by aan die einde en klits goed.
As dit winter is, spoel die bak van die menger uit met kookwater en droog uit.
Plaas eiergele, asyn, sout, peper, mosterd en suiker in die mengbak.
Meng met plastiek- of staallem en voeg die olie in ‘n dun straaltjie bietjie vir bietjie by.
Hou in yskas. Die sous kan verdun word met jogurt net voor gebruik.
Nota:
Indien jy die tradisionele roomkleur wil behou, moenie swartpeper en kruie gebruik nie. Dit gee ‘n lekkerder geur, maar die klein spikkeltjies kan fiemiesrige mens laat neus optrek vir die tuisgemaakte storie
Neem ongeveer 20 minute, en maak ongeveer 600 ml.
Vertoon mooi in ‘n outydse Consul fles. Ek het so 30 by my Ouma ge-erf via my tannie Johanna met nog die glasdeksels.






