

KORSLOSE SOUTTERT MET VARIASIE
Een van ons vriende se dogtertjie is vanoggend gedoop, en nou dink ek terug en verlang ek na die familiebyeenkomste toe ek klein was-en maak toe die vir ons vir middagete. Dit is my ma se korslose souttert en dit was by amper elke verjaarsdag/doop etc op die spyskaart gewees.En dis ‘n uitstekende manier om ou brood op te gebruik.😉
1 ui, gekap
½ pakkie spek, gekap
¼ prei, gekap
4 eetlepels botter
8 snye brood, in blokkies gesny
300 ml melk
3 koppies gerasperde kaas
5 eiers, geklits
2 eetlepels pietersielie, gekap
Opsioneel om by te voeg:
250 g weense worsies, gerasper
1 blik aspersies, fyn gedruk
1 blik geroomde sampioene
Braai ui en prei in botter tot sag. Voeg spek by en braai nog 5 min. Voeg brood en melk by, en prut 2-5 minute. Voeg res van bestanddele by, meng goed en skep in oondbak. Sprinkel bietjie ekstra kaas oor, en bak vir 45 min teen 180ºC tot gepof. Laat afkoel vir 10 min, sny en bedien.
Maak 1 groot tert.
Resep en foto: Ilze Garbers Jacobs






