

OONDGEBAKTE TUNA-AARTAPPELS
5 medium grootte aartappels
1 groot ui, in dun ringe gesny
3 eetlepels botter
3 eetlepels gewone koekmeel
sout na smaak
1 teelepel Cayenne peper
1 ¼ koppie melk
2 blikkies gevlokte tuna
1 blikkie gerookte mossels (opsioneel)
½ koppie mayonnaise
½ koppie gerasperde Cheddarkaas
1 eetlepel soet rissiesous (of warm pepersous na smaak)
1 groot teelepel korrelmosterd (of gewone)
‘n goeie skud paprika (opsioneel)
Skil die aartappels, spoel dit af en plaas dit heel in ‘n houer of bo-op ‘n platvorm bokant ‘n bietjie water in ‘n stoompot. Bring die stoom op en laat stoom dan vir 5 tot 10 minute, afhangende van die grootte van die aartappels, oor medium hitte. Laat genoeg afkoel om te hanteer en sny in ongeveer 4 mm dik skywe. Rangskik die skywe op die bodem van ‘n oondbak. Braai die uie in ‘n bietjie olie tot dit net begin sag word en rangskik dit oor die aartappels.
Smelt die botter in ‘n kastrol oor lae hitte en roer die meel daarby in tot dit goed gemeng is, vir ongeveer 1 minuut. Voeg die melk stadig by terwyl aanmekaar geroer word en laat prut tot dit begin verdik en glad is. Geur met sout en peper en haal van die hitte af. Dreineer die tuna en mossels en vou dit by die sous in. Skep die sous mengsel oor die aartappels en uie. Meng die mayonnaise, kaas, soet rissiesous en mosterd en smeer dit oor die souslaag.
Bak onbedek by 180ºC tot dit begin borrel. Strooi paprika bo-oor net voor dit bedien word, indien jy dit verkies.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete.






