

ADAM SE SPINASIESOP
700 g gevriesde spinasie
2 stingels klein gekapte tafelseldery
1 gekapte ui
200 g gekapte ontbytspek (bacon)
½ liter melk
½ liter water
150 ml room
sout en peper na smaak.
1 pakkie soppoeier van jou keuse. Ek het bruin uiesop gebruik, maar hoendersop of sampioensop sal eintlik lekkerder wees.
1 koppie gerasperde kaas
Braai die spek tot gaar en hou eenkant. Braai die uie en seldery in dieselfde kastrol tot die uie sag is en voeg dan die gevriesde spinasie by, met ‘n klein bietjie water. Kook tot die spinasie sag is en verpulp dit saam met die uie en seldery in ‘n blender of voedselverwerker. Meng die soppoeier met die water en melk en giet dit saam met die spinasie in die kastrol. Bring tot kookpunt, voeg die spek by en prut tot dit begin verdik. Roer nou en dan dat dit nie aan die bodem vasbrand nie. Indien jy verkies kan jy naby die einde ‘n bietjie klein noedels byvoeg om die sop bietjie meer lyf te gee. Haal van die hitte af en roer die gerasperde kaas daardeur. Bedien warm.
Bron en foto: Adam Cloete






