LEKKER SMEERSOUS VIR ANGEL FISH IN DIE OOND
Die hoeveelhede hang af van hoeveel vis jy het. Jy het nie baie nodig nie, net vir so ‘n ligte smeersel oor die vis.
Angel fish heel, skoongemaak en ontvel (of filette)
2 knoffeltoontjies fyngekap
Ongeveer 2 teelepels oreganum
1 eetlepel appelkooskonfyt
1 eetlepel botter
Sap van een kleinerige suurlemoen
Sout en peper na smaak
Meng die appelkooskonfyt en botter en mikrogolf dit vir ‘n paar sekondes dat dit net sag word om goed te kan smeer. Meng die oreganum en knoffel daarby in. Plaas die vis in ‘n oondbak en smeer dit liggies met die mengsel. Giet die suurlemoen sap oor en geur met sout en peper. Maak die bak heeltemal toe met foelie en bak in ‘n voorverhitte oond vir 10 tot 15 minute by 180ºC, afhangende hoe dik jou vis of die filette is. Onthou dit moet nie droog bak nie, want jy wil vis eet, nie karton nie en Angel Fish word veral baie vinnig gaar. Laat tyd toe dat jy die foelie kan afhaal om dit net ‘n vinnige rooster te gee vir ‘n bietjie kleur indien jy dit so verkies.
Jy kan dit net so bak, maar ek het groente vooraf sag gekook in die mikrogolf en by die vis gesit sodat die geure ook daarin kon intrek, vir ‘n lekker eenskottel gereg.
Bron: Adrian Olivier
Foto: Adam Cloete








