So 1½ medium uie. Of sê mens “ui” (enkelvoud) as dit minder is as twee? Watever: dis ‘n resep: nie ‘n taal les nie.
So een groot opgehoopte teelepel knoffel. HOOG opgehoop: ons hou van knoffel. Met alles. Behalwe miskien ice cream. Miskien.
Drie skaap skouertjops
So ‘n klompie boontjies wat genoeg lyk vir drie tjops: miskien so ‘n kilogram of wat? Ek weet nie so lekker nie… Ek het die boontjies myselwers gekoop en gesny maar dit beteken ongelukkig nie ek weet hoeveel dit was nie.
Sout
Barbecue spice
Heel koljander in ‘n pepermeultjie. Of word dit miraculously ‘n koljandermeultjie sodra jy koljander daarin sit?
So bietjie olyfolie (dis nou gemeet in die metrieke stelsel. In imperiale mate: so bietjie olyfolie)
So bietjie ordentlike witwyn. Enige ordentlike witwyn is OK. Ek het Pinot Auxerois gebruik. Hoekom? Oor lat dit oop was. Chardonnay is ook OK. Of Pinot Grigio. Of Sauvignon Blanc. Of Chenin Blanc. Of Oom Tas… OK, dis nou eintlik meer vreeslik ordentlik nie, is dit? Whatever. Hoeveel is genoeg? Miskien so 250ml? Nie so seker nie…
Water
So maak mens (a la Esmé en Jan)
Sny die ui-en-‘n-half in stukkies. Hoe groot? So lat dit lekker kan braai en nie “mush” word in die pot nie.
Plaas so 20 ml (sjoe, dit klink darem baie presies!) olyfolie in ‘n decent size kastrol en maak goed warm. Braai uie tot dit blink is. Nie bruin nie: net blink.
Wanneer die ui(e?) so 90% blink is (soos wat die average kok is as hy/sy so twee average size glase wyn saam met die kookproses gedrink het) gooi die knoffel by.
Braai nog so bietjie en dan: Skep dit alles uit in ‘n bord of iets soortgelyks.
Sit die plaat flat out aan. Soos in so hoog as wat dit kan gaan. Gooi nog so 20ml olyfolie (mag nie die vleis voortrek relatief tot die ui(e) nie!) en die tjops in die kastrol en braai ordintlik aan die een kant. Draai om (nee man, die tjops, nie jy nie!) en gooi sout, barbecue spice en koljander oor na smaak. Maar onthou: daar kom nog heelwat water, uie en boontjies by: moenie op hierdie stadium skaam wees nie.
Waneer die ander kant ordintlik gebraai is draai weer om (weer die tjops) en spice die tweede kant.
Intussen: kook genoeg water.
Draai die vleis weer om sodat albei gespice-de kante gebraai is en daar genoeg bruin semi-gebrande aanpaksels in die kastrol is.
Wanneer die vleis genoeg gebraai is (na goeddunke): gooi so klein bietjie kookwater by om die aanbrandsels te omvorm in so ‘n bruinerige sousigheid. Gebruik houtlepel om dit alles in suspensie te kry. Gooi dan genoeg kookwater en die wyn by om die vleis te bedek.
Smyt helfte van die uie by. Dis maar net ‘n persoonlike hangup van my: ek hou van fyngekookte uie vir smaak en geur maar ek hou ook van helerige stukkies uie vir tekstuur: om dit te kry gooi ek die res later by.
Maak die kastrol toe-erig (los plek vir stoom om te ontsnap want jy wil die ergste water afkook) en kook vir so ‘n uur tot twee uur. Ek wou sê “prut” maar om genoeg water af te dryf prut ek dit teen ‘n redelike stewige tempo, aldus “kook”, nie “prut” nie.
Sny die boontjies in sulke 20-50mm stukkies. Pasop vir jou vingers: ek het vanaand ‘n ander boontjie ding gemaak en toe sny ek my vinger raak: dis niks lekker nie. Boonop hou my vrou nie van bloederigheid by die boontjies nie.
Na reedsgenoemde uur en ‘n half (of daaromtrent): skep die boontjies en die oorblywende uie/knoffel mengsel by. Sit genoeg sout (of perdalks Aromat of soortgelyk) by na smaak. OPPAS: moenie te veel souterigheid bygooi nie: onthou die water gaan nog afkook en die smake konsentreer. Sit liewer te min by en proe weer wanneer die consistency amper reg is: dis die regte tyd om die fine tuning te doen…. en jy kan nie sout uithaal nie!
Prut vir nog so 37 minute. OK, ek spot: ek weet eintlik nie presies hoe lank nie. Maar dis meer as ‘n halfuur en waarskynlik minder as ‘n uur: ek hou daarvan dat die boontjies redelik sag is maar nie ‘n pulp nie. Die hele triek is dat daar nog lekker juice moet wees maar Vader behoede ons dat die hele besigheid waterig moet wees: tog net nie DIT nie!
Intussentyd: kook rys.
That’s about it: ek hoef tog sekerlik nie te sê “Skep uit op rys en eet” nie, of hoe?
Geniet dit: ek is baie lief hiervoor.
Resep en foto: Esme Slabbert
Posted: Amanda Conradie








