’n Piekeluitjie is bobaas op ’n kaasbord of op ’n broodjie met sterk kaas en blaarslaai.
Maak dit self met ons maklike resep.
1,5 kg piekeluitjies
45 ml growwe sout
500 ml water
Kookwater
45 ml ligte bruinsuiker
1 liter water
750 ml bruinasyn
5 ml brandrissievlokkies
10 ml heel swart peperkorrels
10 ml mosterdsaadjies
5 lourierblare
Laat die uitjies (met skil en al) oornag in ’n mengsel van 45 ml growwe sout en 500 ml water lê. Dreineer, sit die uitjies in ’n plat bak en giet genoeg kookwater oor om al die uie te bedek. Laat dit vir 10-15 minute staan.
Dreineer weer en trek nou die skille af. Pak die uitjies styf langs en op mekaar in deeglik gesteriliseerde flesse. Verhit nou die suiker, water, asyn, brandrissievlokkies, peperkorrels, mosterdsaadjies en lourierblare saam tot kookpunt. Kook vinnig vir 4-5 minute.
Laat die vloeistof afkoel en giet oor die uitjies. Verdeel die speserye en geurmiddels in die vloeistof tussen die flesse voor jy dit toeskroef met gesteriliseerde deksels. Bêre in ’n koel, donker plek vir minstens 1 maand voor jy die uitjies gebruik.
Resep geplaas deur Rina Kleinhans
Foto: Gideon Louw
2de Foto: Elize van Wyk