“Daar is iets heerliks in om seisoenale groente in te lê. In die proses spaar jy geld en weet dat jou produk sonder preserveermiddels is. Hoekom probeer jy dit nie? Eiervrug is tans in seisoen, so koop ʼn boks en lê dit in vir die wintermaande wat voorlê. Hier is drie geurige maniere”.
Soutpreservering
“ʼn Lekker happie of voorgereg om met mezze-bord of op ʼn bruchetta te bedien. Soos met die volgende resep, maak of breek die gehalte van die olyfolie die produk – gebruik dus die beste wat jy kan bekostig”.
(Genoeg vir ʼn 1 liter fles)
1.5 kg eiervrugte, gesny (omtrent 4 groot eiervrugte)
4-8 knoffelhuisies, gesny
ʼn hand vol vinkel of dille
ʼn hand vol seesout
Goeie kwaliteit ekstra suiwer olyfolie (soos Willow Creek)
Pak die eiervrugsnye in lae met die knoffelhuisies en vinkel of dille in ʼn keramiek- of glasbak. Strooi die sout bo-oor en sit ʼn bakplaat bo-op om dit af te druk. Plaas in die yskas. Gooi die vloeistof wat afkom gereeld af (dit kan tot vier weke neem). Pak in gesteriliseerde flesse en gooi olyfolie oor. Bêre tot vier maande in die yskas.
Oliepreservering
“Jy kan die eerste stap los en olyfolie koop wat met knoffel gegeur is. Dit kan net soos by die soutresep gebruik word en is ʼn ongewone, maar smaaklike bestanddeel vir ʼn slaai”.
(Vul ongeveer ʼn 500ml fles)
8 knoffelhuisies, fyngedruk
3 k goeie gehalte ekstra suiwer olyfolie (soos Willow Creek)
6 groot eiervrugte
3 k witwynasyn
Goeie gehalte ekstra suiwer olyfolie (soos Willow Creek)
Maak die knoffelolie deur die knoffel by die olie te gooi en dit twee dae te laat staan om in te trek (of koop knoffelolie). Sny die eiervrug in snytjies en besprinkel met seesout. Laat staan 1 uur in ʼn vergiettes sodat die vloeistof kan dreineer. Skud die ekstra sout af. Bring die asyn tot kookpunt en kook die eiervrugsnye 3 minute lank in sarsies. Dit moet sag wees, maar nie vorm verloor nie. Pak dit in ʼn gesteriliseerde fles, gooi die knoffelolie oor. Seël en laat staan een maand om geure te ontwikkel.
Eiervrugblatjang
“Heerlik met kerrie of op ʼn kaasbord”. (Vul ongeveer ʼn 250ml-fles)
100 ml olyfolie
2 uie, gerasper
8 knoffelhuisies, fyngedruk
1e swartpeper
2e soet paprika
2e komynsaad
2 tamaties, geskil en in blokkies gesny
6 rissies, gesny
1e witwynasyn
3e suiker
2 groot eiervrugte, in blokkies gesny
Suurlemoensap na smaak
Verhit die olie en braai die uie vyf minute saam met die knoffel, peper, paprika en komynsaad. Voeg die tamaties, rissies, asyn, suiker en eiervrug by. Prut 30 minute. Voeg suurlemoensap na smaak by. Hou tot een week in die yskas.








