ROOIFLUWEELKAASKOEK
KAASKOEKKORS:
125 g botter/margarien
60 ml suiker
1 ekstragroot eier
500 ml koekmeel
7 ml bakpoeier
KAASKOEKVULSEL:
1 kg roomkaas
375 ml suiker
250 ml room
10 ml vanilla
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
Sap van 1 en ‘n halwe suurlemoen
8 ekstragroot eiers.
ROOIFLUWEELKOEK:
115 g botter/margarien
375 ml strooisuiker
2 ekstragroot eiers
30 ml rooi voedselkleursel
45 ml kakao
250 ml karringmelk
5 ml vanilla geursel
625 ml koekmeel
2 ml sout
7 ml koeksoda
15 ml asyn
ROOMKAASVERSIERSEL:
500 g versiersuiker, gesif
150 g geroomde maaskaas
30 ml sagte botter
5 ml vanilla geursel
Voorverhit oond tot 200ºC. Smeer of spuit vier 23cm laagkoekpanne.
KAASKOEKKORS: Verroom botter en suiker tot lig en romerig. Voeg die eier by en klits goed. Sif meel en bakpoeier saam en roer by bottermengsel tot ‘n stewige deeg vorm. Druk die deeg in een van die koekpanne.
KAASKOEKVULSEL: Klits al die bestanddele vir die vulsel goed saam, giet die helfte oor die kors en die ander helfte in ‘n ander koekpan. Bak 45 min. Haal koek uit die oond en laat heeltemal afkoel. Verkoel oornag in yskas.
ROOIFLUWEELKOEK: Voorverhit oond tot 180ºC. Verroom botter/margarien en suiker tot lig en romerig. Voeg die eiers by en klits goed. Meng kleursel en kakao deeglik, voeg die karringmelk en geursel by en meng goed. Sif meel en sout saam en roer beurtelings met kakaomengsel by die eiermengsel in. Meng koeksoda en asyn en vou by beslag in. Giet beslag in twee koekpanne en maak gelyk. Bak 30 min of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koeke kom. Keer uit op draadrak om af te koel.
ROOMKAASVERSIERSEL: Klits bestanddele tot romerig. Plaas een van die fluweelkoeklae op die kaaskoekbasis, smeer met versiersel en stapel die res van die koeklae om die beurt met die versiersel bo-op. Versier koek met die orige versiersel en blomme as jy wil.






